10 van 16 ontsnaptes steeds op vrye voet

Argieffoto: ANA.

Tien van die 16 verdagtes wat verlede week uit “Sun City”, ʼn korrektiewe sentrum in Johannesburg, ontsnap het, is steeds op vrye voet.

Maroela Media het vroeër berig 16 verdagtes het op 9 April uit ʼn Johannesburgse gevangenis ontsnap. Die verhoorafwagtende gevangenes het omstreeks 03:00 uit die Johannesburgse Medium A-tronk, ontsnap. Twee van die 16 is op 10 April in ʼn skietgeveg in KwaZulu-Natal deur die Valke doodgeskiet.

Mandla Mkabela, waarnemende nasionale kommissaris van korrektiewe dienste, het Donderdag die parlement se portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste toegespreek en bevestig twee ontsnaptes is in ʼn skietgeveg met die polisie doodgeskiet en vier is in hegtenis geneem.

“Die departement het reeds stappe gedoen om sekuriteit te verskerp, insluitend ʼn hoëvlak ondersoek na die ernstige veiligheidsbreuk, soos aangevra deur die minister van justisie en korrektiewe dienste,” het Mkabela gesê.

Hy het gesê tesame met die polisie en ander wetstoepassingsagentskappe werk hulle onverpoosd om te verseker dat die laaste tien ontsnaptes ook vasgetrek word.

Die 16 ontsnaptes wat meestal vir verkragting, roof en moord in die tronk was, het deur ʼn muur in die tronk gebreek voordat hulle ontsnap het.

Mkabela het gesê hulle sal geen steen onaangeroer laat nie om te verseker dat die skuldiges, of dit nou beamptes, gevangenes of enigiemand anders is, aan die pen ry.

Dié ontsnapping volg ná ʼn ander ontsnapping uit die Pollsmoor- korrektiewe sentrum in Kaapstad verlede maand. In daardie geval is al die ontsnaptes binne 36 uur vasgetrek.

Mkabela het gesê hoewel dié ontsnapping onaanvaarbaar is, het die departement wel daarin geslaag om verskeie ander ontsnappingspogings die afgelope paar jaar te fnuik.

Volgens hom was daar tussen 1 April 2016 en 31 Maart 2018 80 ontsnappogings wat gefnuik is en volgens korrektiewe dienste se statistieke het die getal ontsnaptes drasties gedaal oor die afgelope twee dekades.

Mkabela het gesê daar was 1 244 ontsnappings in 1995 en tydens die 2016/2017 boekjaar net 50.

“Meeste van die gevangenes wat oor die jare ontsnap het, is weer in hegtenis geneem. Meeste korrektiewe dienste beamptes is hardwerkend en moet geprys word vir hul dienste wat hulle onder moeilike omstandighede lewer,” het Mkabela gesê.

Hy het wel toegegee dat daar sommige kriminele beamptes is wat die “edele doelstellings vir ʼn veiliger Suid-Afrika prysgee vir ʼn vinnige geldjie op die altaar van gierigheid”.

Volgens hom is 34 korrektiewe beamptes tydens die 2015/2016-boekjaar aangekla en skuldig bevind aan korrupte aktiwiteite terwyl 118 in dieselfde tydperk afgedank is. Tydens die 2016/2017-boekjaar is 37 beamptes aangekla en skuldig bevind aan korrupsie.

“Ons ondersoek en dank nie net die beamptes af nie, hul word krimineel ondersoek,” het Mkabela bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Koos B ·

Identifiseer die wat aan diens was gedurende die ontsnapping stop hul salaris en as hulle nie die ontsnaptes op eie kostes terug bring nie ontslaan hulle sonder voordele.

Mornay ·

En wie gaan dit doen Koos B
Nee wat hierdie is nie Feetjie land of NZ nie

Genieve ·

Insite job die bewaarders is netso saam met die gevangenis dis hoe dit deesdae werk hulle kry mos geld van die gevangenisse af.

smurfie ·

Hoe breek hullr deur n muur, en NIEMAND hoor dit ni??? Dit moes tog n groot geraas gewees het. En hoe gereeld gaan kyk hulle dan wat aangaan in die selle?

humor ·

smurfie jy vra daai storie. Die probleem is dat die bewaarders 10 teen 1 ook uodkriminele was wat al n paar jare agter die tralies gesit het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.