10 vas vir dubbele moord

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

Tien mense is die afgelope naweek in Port St. Johns in die Oos-Kaap in hegtenis geneem in verband met ʼn voorval by die Mbabalane-nedersetting in dié gebied Vrydagaand waarin ʼn ma en haar seun dood is. Volgens brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, hou die voorval met boendoegeregtigheid verband.

Al tien verdagtes word tans by die Port St. Johns-polisiestasie aangehou.

Kinana sê die voorval is glo aangevuur nadat een van die slagoffers (29) iemand anders by ʼn plaaslike taverne gesteek het.

Dié slagoffer (van die dubbele moord) is toe glo met stokke aangerand en op die toneel dood. Sy ma (57) het probeer ingryp om haar seun te help en is in die proses doodgeskiet.

Die polisie is na die toneel ontbied en het tot dusver tien verdagtes in verband met die twee se dood in hegtenis geneem. Sake van moord word ondersoek.

Die voorval is die tweede van sy soort binne ʼn kort tyd in die Oos-Kaap.

Twee jong mans is verlede week in Bityi deur lede van die gemeenskap aan die brand gesteek. Vier verdagtes is in verband met dié mans se dood in hegtenis geneem en sal in aanhouding bly totdat hul saak weer op 12 April aangehoor word.

Die polisie sê hulle is bekommerd oor die toename in gevalle waar die gemeenskap eie reg gebruik.

“Ons het mense al verskeie kere gewaarsku om nie eie reg te gebruik nie. Sommiges ignoreer hierdie waarskuwing egter blatant. Ons het daarom geen ander keuse as om mense in hegtenis te neem wat ʼn slegte voorbeeld in gemeenskappe stel nie,” het lt.genl. Nomthetheleli Mene, provinsiale polisiekommissaris, gesê.

“Wetgewing moet nagekom word in ons provinsie. Diegene wat dit ondermyn, sal die gevolge moet dra.”

Die tien verdagtes wat in Port St. Johns in hegtenis geneem is, is almal tussen 28 en 48 jaar oud en sal op 11 April op aanklag van moord in die plaaslike landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Realis Thailand ·

Die mense moet eerder belonings en medaljes kry en nie arrresteer word nie
Die polisie is te sleg om iets te doen so wat moet die arme publiek doen

Amelia ·

Wie betaal vir die klomp se kos en verblyf in tronk belasting betaler en word hul gevang vir moord kom die na ruk uit en gaan voort indien lewenslank werklik die res van lewe is sal dit nie nodig wees dat daar boendoe geweld is nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.