10 vas vir miljoene rande se tenderbedrog

Argieffoto

Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) het in die vroeë oggendure van Donderdag altesaam tien verdagtes in verskeie provinsies in hegtenis geneem in verband met tenderbedrog van R600 miljoen.

Kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, sê in ’n verklaring die verdagtes, almal tussen 34 en 60 jaar oud, is onderskeidelik in die Oos-Kaap, Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal in hegtenis geneem.

Dié inhegtenisneming volg nadat die nasionale tesourie ’n klag by die Valke ingedien het. Luidens die klag het die verdagtes glo tenderprosesse omseil om toegang tot die Amathole Distriksmunisipaliteit (Oos-Londen) se fondse te verkry. Gevolglik is hulle ’n tenderkontrak toegeken om VIP-toilette (geventileerde puttoilette) aan die munisipaliteit te verskaf.

’n Ondersoek deur die Valke sou later onthul dat meer as R600 miljoen vir die bou van die toilette toegeken is, waarvan R286 miljoen reeds aan die verdagtes uitbetaal is.

Volgens Mogale sal al tien verdagtes Vrydag in die landdroshof in Oos-Londen op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery verskyn.

Lt.genl. Yolisa Matakata, waarnemende nasionale hoof van die Valke, het die inhegtenisnemings verwelkom.

“Hierdie ontwikkeling is baie welkom in ons groter stryd teen korrupsie om te verseker dat skoon en geloofwaardige bestuur heers. Niks sal ons keer om te verseker dat korrupte oortreders, hetsy in die privaat sektor of die regering, aan die pen ry nie,” het sy gesê.

In ’n aparte saak het die ANC-LP en oudminister Bongani Bongo óók Donderdag op aanklagte van bedrog in die hof verskyn. Hy het glo in 2017 probeer om die verrigtinge van ’n kommissie van ondersoek na ongerymdhede by Eskom in die wiele te ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

marous ·

En dan gaan hulle almal op borg uit wat hulle uit hul voertuie se asbakkies betaal . Hou maar dop .

skurweberg ·

Dis goeie nuus, maar net die begin. ‘n Onafhanklike party met integriteit is nou dringend nodig om al hierdie prosess wat gaan begin, te monitor. Niks moet vanselfsprekend aanvaar word nie.

Lou ·

Dit moet regtig ‘n kleinhuisie vol kleinhuisies wees wat hulle moes voorsien vir R600m.
Nogal VIP ook. Die sitplek het seker ‘n mooi hekel lappie op dat ‘n man darem lekker kan sit so in die winter.

Karolis ·

Ek glo nie daar is al een toilet voorsien nie, vandaar die ondersoek.

Kosie ·

Lou ‘n VIP toilet het te doen met verbeterde ventilasie niks anders nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.