100 + 1 jaar: Die Jannies se eerste skooldag

Laerskool Jan van Riebeeck se feesgids vir hul eeufeesvieringe (Oorspronklike hommeltuigfotografie deur Stefan Compion vir Laerskool Jan van Riebeeck)

Die energie was Woensdagoggend byna tasbaar by die Laerskool Jan van Riebeeck, ʼn Afrikaansmedium-laerskool in die middestad van Kaapstad, wat Woensdag saam met die res van die kusprovinsies met die nuwe skooljaar begin het.

Ma’s en pa’s het emosionele ondersteuning gebied vir die klompie Jannies wat vandag as graadeens vir die eerste keer met hul skooluniforms kon spog.

Die Laerskool Jan van Riebeeck het op 31 Januarie 1921 vir die eerste keer sy deure oopgemaak. Covid-19-regulasies het verlede jaar die skool se eeufeesvieringe in die wiele gery, en daarom vier die skool vanjaar met trots “100 + 1” jaar. Leerders kan uitsien na ʼn jooldag op 28 Januarie waar hulle onder andere aan waterkaskenades kan deelneem en ʼn spesiale funksie word vir die ouergemeenskap gereël op 31 Januarie.

Dié laerskool is die enigste Afrikaansmedium laerskool in die stadskom, maar leerders kom van oral oor die stad en selfs so ver as Bloubergstrand om moedertaalonderrig te ontvang.

Jodene le Clus-Naylor, verantwoordelik vir menslike hulpbronne en administrasie, sê die laerskool verwelkom vanjaar reeds minstens 70 graadeens.

“Een van die ouers was self op laerskool hier en hy was ook in Hoërskool Jan van Riebeeck. Sy dogter begin vandag met gr.1 by ons,” vertel Le Clus-Naylor. “Hy het ons sommer dadelik gekontak toe die registrasieproses oopgemaak het.”

Naas Beets, skoolhoof, sê hy was verbaas oor die groot Afrikaanse gemeenskap in die stadskom van Kaapstad en hoe groot die aanvraag is na Afrikaansmediumskole.

Beets staan ook verstom oor die betrokkenheid van die ouers. “Dit is iets wat vir ons baie kosbaar is. Die ouers stel intens belang en wil saam die sukses van die skool verseker. Ons het ook ʼn dinamiese beheerraad waarvoor ons baie dankbaar kan wees.”

Die skool se leuse “wees jouself” is nie net lippetaal nie, meen Beets. “Dis vir ons belangrik dat elke leerder, wanneer hulle deur die skoolhek stap en die leuse sien, moet weet dat hulle hulself hier kan uitleef. Ons besef dat elke kind uniek is, mens kan nie kinders in boksies plaas nie. Dis nie altyd maklik nie, maar dis die moeite werd.”

Huppelland is die pre-primêre skool van Laerskool Jan van Riebeeck en dien as voederskool vir die laerskool. Woensdag het slegs enkele leerders wat nie vroeër by Hupelland was nie, by die skool aangemeld.

Die boomhuis en tuna-mayonaise-broodjies

William Molenaar (Foto: Maroela Media)

William Molenaar is baie opgewonde oor sy eerste skooldag. “Ek sien uit na die boomhuis,” vertel hy aan Maroela Media. Sy pa Daryn verduidelik daar is ʼn boomhuis op die terrein waar die kinders kan speel. Ma Koba is merkbaar emosioneel om William te groet. “Mens besef hy gaan jou as ma dalk nou minder nodig kry. Ek het gemengde gevoelens, want die juffrou gaan nou oorneem, maar ek is trots daarop dat hy onafhanklik kan aangaan.”

Lucy le Roux (Foto: Maroela Media)

Lucy le Roux kon byna nie stilstaan nie van al die opgewondenheid om haar maatjie te sien. Sy sien ook uit na haar tuna-mayonnaise-broodjie wat pouse in haar kosblik wag. Haar pa Herman meen dit is ʼn skok dat dié dag so vinnig aangebreek het.

Inge Engelbrecht (Foto: Maroela Media)

Inge Engelbrecht wil graag inkleur en buite gaan speel. Sy is ook opgewonde om te leer skryf en wil eendag graag ʼn haarkapper word. Ma Stephnie sê hulle het slegs ʼn paar dae gelede van Port Elizabeth af na Kaapstad verhuis en die afgelope paar dae was dus lekker dol. “Dis wonderlik dat mens se kind by ʼn Afrikaanse skool met ʼn Afrikaanse kultuur kan inskakel.”

Pieter Derksen (Foto: Maroela Media)

Op die vraag of Pieter Derksen opgewonde is, wys hy net met trots ʼn duim op. Hy wil graag speel en leer. Sy pa beaam ook dit is ʼn voorreg dat hy in Afrikaans kan skoolgaan.

Mila Boshoff (Foto: Maroela Media)

Mila Boshoff is baie opgewonde om “nuwe vriende te maak”. Haar ma Gabrielle lag en sê Mila wou gisteraand geweet het of daar enige poetse is wat sy vandag kan bak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kokerboom ·

Pragtig..trots op eg Afrikaanse skool. Gelukkig is Lesufi nie naby!

Anel ·

Hoekom moet dit vir die Afrikaanse kind ‘n voorreg wees om in Afrikaans te kan skoolgaan maar vir die ander om in engels skool te gaan hulle reg? Hoop die skool bly by sy tradisies vir nog ‘n honderjaar plus.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.