Nagenoeg 100 leerders van die St. Mathews Senior Secondary School in Keiskammahoek in die Oos-Kaap is Dinsdagaand na die S.S. Gida-hospitaal gehaas en opgeneem.
Die voorval het omstreeks 18:00 plaasgevind ná die kinders almal van maagkrampe gekla het.
Die Oos-Kaapse departemente van onderwys en gesondheid het in ʼn gesamentlike verklaring gesê hulle het onmiddellik beamptes na die skool gestuur om ondersoek in te stel oor die oorsaak van die uitbreking terwyl hul wag vir die uitslae van die toetse wat deur die hospitaal op leerders uitgevoer is.
“33 van dié leerders is omstreeks middernag ontslaan en teruggeneem na die koshuis deur van die distriks- en skoolbeamptes. Aangesien al die leerders beweer die voorval het plaasgevind ná hulle water van ʼn sekere waterbron gedrink het, het die departement sedertdien alle gebruik en inname daarvan gestaak tot die ondersoek afgehandel is.”
ʼn Alternatiewe waterbron is vir die kinders beskikbaar gestel sodat hulle “behoorlik gefiltreerde water kan ontvang en beamptes van albei departemente werk om die uur om die situasie reg te stel”.
Die departemente het ook bygevoeg die leerders word gemonitor om enige verdere uitbreking te vermy.
Watse tipe kiem/besoedeling veroorsaak onmiddellike maagkrampe? Ek hoop hier kom ‘n opvolg, want ek wag nog vir die opvolg berig van die ander skool wat siek geword het van lekkers wat hulle geëet het, ons weet steeds nie wat was in daai lekkers nie.