100 mense, 48 uur om man van berg te red

Die toneel waar die man vasgesit het. Foto: @MSARGP op Twitter.

Die toneel waar die man vasgesit het. Foto: @MSARGP op Twitter.

Dit het meer as 100 mense van verskillende organisasies drie dae geneem om ʼn man te red nadat hy op ʼn berg in Rustenburg, Noordwes vasgeval het.

Die man het op die berg by die Rustenburgkloof-vakansieoord in die moeilikheid beland toe sy voet in ʼn rotsskeur vasgesit het. Ná verskeie mislukte pogings om hom te bevry, is ʼn sjirurg tot by die man geneem en sy regterbeen is onder die knie geamputeer.

Reddingswerkers het in skofte gewerk, bo-op die berg geslaap en moes soms onderstebo te werk gaan in ʼn poging om die man te probeer bevry. “Ek was sedert 20:00 Vrydagaand op die toneel,” het Rob Thomas, leier van die Bergklub van Suid-Afrika se soek- en reddingspan, gesê. “Ons het op die berg geslaap en dit was koud. Party mense het nie slaapsakke gehad nie en moes op die grond slaap.”

Beeld het die beseerde man as die 26-jarige Tsenolo Shadrack Rasello geïdentifiseer.

Hy was Vrydag alleen op die berg en het glo vir ʼn slang geskrik voor hy ʼn paar meter ver geval en met sy been in die rotsskeur beland het. Rasello het sy familie geskakel en die polisie is in kennis gestel. Die polisie het die brandweer, die lugvleuel en die bergklub in kennis gestel.

Volgens Thomas was hulle teen 03:00 Saterdagoggend op die berg. “Daar was geen manier dat ons hom in die donker sou kry nie en die span het vir eers gestop. Met dagbreek het ons besef dit gaan steeds onmoontlik wees om hom te kry en ʼn polisiehelikopter is ingebring om sy ligging aan ons uit te wys,” het hy gesê.

“Ons moes sowat 40m teen ʼn krans afseil om die pasiënt te bereik. Ek het sy voet probeer uitkry, maar niks wou werk nie. Ons het ook ʼn mynreddingspan probeer betrek, maar hulle het pas sowat 28 uur gespook om ʼn ondergronde brand te blus. Geluk was nie aan ons kant nie.”

Die Rustenburg-brandweer, Noordwes-rampbestuur, Rescue SA, reddingspanne van Lonmin en Impala, Netcare 911, ER24 en verskeie ander organisasies het by die reddingsproses betrokke geraak. “Meer as 100 mense was by tye by die reddingspoging betrokke,” het Thomas verduidelik.

Die Suid-Afrikaanse Lugmag het ʼn helikopter, wat deel was van die lugskou by Waterkloof, ontbied om te help met die reddingspoging. Die helikopter wat vroeër gebruik is kon slegs een persoon op ʼn slag vervoer terwyl die lugmaghelikopter vier tot vyf mense op ʼn slag kon vervoer.

“Uitputting was ʼn groot uitdaging. Ek het seker gemaak dat daar deurlopend ʼn paramedikus by die man was. Die paramedici het elke ses tot agt ure skofte geruil,” het Thomas bygevoeg. Hy het gesê reddingswerkers moes meestal onderstebo hang terwyl hulle Rasello probeer bevry het. Hulle het onder andere baba-olie gebruik om sy been uit die skeur te probeer bevry. “Die skeur was slegs sowat 18cm breed en sy enkel was vasgekeer.”

Reddingswerkers het Saterdagaand besluit dat Rasello se been geamputeer sal moet word. “Ons het die sjirurge aan toue vasgemaak en hulle tot by die toneel laat afsak. Daar is ook ʼn draagbaar afgesak. Daar was baie komplikasies. Hulle het in baie moeilike omstandighede gewerk.”

Rasello is ná die amputasie na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal geneem vir behandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Drieks ·

Dit is heerlik om te lees hoe almal probeer help het. Tsenolo, ek glo jy sal altyd die goeie van die hele nagmerrie onthou en daarop voortbou in jou lewe. Voorspoed! Dankie almal, julle ons helde.

Estie van Rooyen ·

Ek het die grootste respek en dankbaarheid in my hart teenoor elkeen wat betrokke was. So dankbaar dat die man gered is na soveel trauma.Ons het die helikopter so 5-6 uur Vrydagaand daar gesien. Wys mens net, wanneer dit nodig is kan ons saamwerk. Ons dank God vir Sy Genade en Almag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.