10111-staking ‘is onbeskermd’

Stakende werkers van die polisie se 10111-inbelsentrum hou ʼn optog na die Uniegebou in Pretoria (16 Oktober 2017). Foto: Brenda Masilela/ANA

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het Dinsdag gesê die staking deur werknemers van sy 10111-inbelsentrum is onbeskermd aangesien ʼn ooreenkoms in die verband in September onderteken is.

Volgens die SAPD is ʼn ooreenkoms verlede maand tussen die Veiligheidsektorbedingingsraad (SSSBC), waarvan Popcru die meerderheidsvakbond is, en die SAPD onderteken. Die SAPD het in ʼn verklaring gesê hoewel die Suid-Afrikaanse Polisie-unie (Sapu) nie die ooreenkoms onderteken het nie, is die ooreenkoms steeds afdwingbaar en is die staking dus onbeskermd.

Dit kom nadat 10111-werknemers, wat lede van Sapu is, Maandag ʼn optog na die Uniegebou in Pretoria gehou het om ʼn memorandum van hul griewe en eise te oorhandig. Die werkers staak alreeds sedert 18 Julie.

Volgens die SAPD het die meerderheid 10111-werkers intussen na aanleiding van die ooreenkoms teruggekeer werk toe, maar sommige werkers het nie. Die stakende werknemers het beloof om die staking te verskerp indien daar nie aan hul eise gehoor gegee word nie.

Sapu eis salarisverhogings wat aanbeveel is deur ʼn taakspan wat in 2013 deur die geskorste polisiekommissaris, Riah Phiyega, op die been gebring is. Die vakbond eis dat die SAPD werkers se salarisse met twee vlakke verhoog word, ʼn geraamde verhoging van R50 000 per jaar.

Zwelinzima Vavi, algemene sekretaris van die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde (Saftu). Foto: Brenda Masilela/ANA

Zwelinzima Vavi, algemene sekretaris van die Suid-Afrikaanse Federasie van Vakbonde (Saftu), het gesê die skommeling van nasionale polisiekommissarisse het ʼn negatiewe impak op 10111-werkers. “Ons kan geen rede insien hoekom ons ons moet beroep op optogte en opofferings soos om te staak om ʼn lys van eise na te streef waarop ons en die polisiebestuur al lank gelede ooreengekom het nie. Hierdie staking is dus heeltemal onnodig,” het Vavi gesê.

“Ons betaal nou die prys van hierdie narre wat in magsposisies gesit word, wat net op Twitter wil wees en op sosiale media gewild wil wees eerder as om werkers se probleme op te los.”

Tumelo Mogodiseng, adjunkpres. van Sapu, het gesê die unie het reeds Fikile Mbalula, minister van polisie, in hierdie verband genader, maar voel daar is nie veel gedoen om hul lot aan te spreek nie. “Ons het na die minister toe gegaan, [maar] hy het nie tyd vir lede nie. Hy is besig om te twiet, hy is besig op Facebook. Ons doen ʼn beroep op pres. Jacob Zuma om Mbalula te herroep. Comrade Mbalula moet teruggaan sport toe,” het Mogodiseng gesê.

Die 10111-werkers eis dat hul salarisse op dieselfde vlak as die werkers van ander staatsinbelsentrums moet wees, soos by die departement van binnelandse sake, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, die presidensiële blitslyn en die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa).

Die SAPD het na aanleiding van die ooreenkoms wat verlede maand onderteken is, dissiplinêre stappe gedoen teen werkers wat nie teen 29 September 2017 teruggekeer het werk toe nie. Sapu het die dissiplinêre optrede in die hof betwis en dié saak sal Woensdag in die arbeidshof aangehoor word.

Volgens die SAPD se verklaring sal die polisiediens voortgaan om met vakbonde te onderhandel om die loondispuut op te los.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Will i am ·

Hulle wil nie werk nie. Jaag weg en kry mense wat wil werk

zoom zoom ·

Min Frikkie wil net sport kyk en bal speel en dan na sy eie stem en bakkies op tv nuus sien

Albaster ·

Ek dog hulle staak al permanent vir jare. Daar het niks gebeur die kere wanneer ek 10111 moes gebel het nie.

Leahim ·

Ek was nie bewus dat hulle weer werk nie die klomp staak die hele jaar vat net n breek om verlof te vat dan staak hulle weer ontbind die klomp in elkgeval net n mors van belastinggeld

Nina ·

As hulle betoog oor so verhoging wat van die arme transnet pensioenarisse wat n Skamele R1500 n mnd kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.