10111-staking: ‘Meerderheid’ het teruggekeer werk toe

Argieffoto: https://pixabay.com

Die polisiebestuur is vasbeslote om met tugstappe te begin teen stakende 10111-operateurs wat nie Vrydag teruggekeer het na hul poste toe nie.

Sommige lede van die Suid-Afrikaanse Polisie-unie (Sapu) verbonde aan 10111-inbelsentrums staak al sedert Augustus.

Brig. Vishnu Naidoo, polisiewoordvoerder, het Dinsdag herhaal dat die staking onbeskermd is en dat die waarskuwingsbriewe wat aan werkers gestuur is om terug te keer werk toe, geldig is.

“Stakende werkers het Donderdag die briewe ontvang om hulle in te lig dat die staking onbeskermd is. Dit wás aanvanklik ʼn beskermde staking. Daar is egter in September ʼn ooreenkoms, waarvan die meerderheidsvakbond Popcru en die polisie ondertekenaars is, met die veiligheidsektorbedingingsraad (SSSBC) aangegaan. Alhoewel Sapu nie ʼn ondertekenaar van die ooreenkoms is nie, is die ooreenkoms afdwingbaar en is die staking onbeskermd verklaar,” het Naidoo gesê.

“Ongelukkig duur die staking voort en alle stakende personeel word versoek om die optrede te staak en terug te keer na hul poste. Hoewel die meerderheid van die werkers wel teruggekeer het werk toe, het sommige werkers nié en gaan die nodige tugstappe teen dié werkers begin.”

Naidoo het gesê Sapu is bewus gemaak van die ooreenkoms. Die vakbond het egter Vrydag kapsie teen die ooreenkoms gemaak.

Oscar Skommere, Sapu se hoofsekretaris, het gesê die ooreenkoms het nie aandag gegee aan die vereistes van sy lede nie. Hy sê voorts dit toon dat die polisie herstrukturering sonder behoorlike konsultasie wil implementeer aangesien sommige werkers weer vir hul posisies moet aansoek doen.

Skommere het gesê die vakbond het ʼn brief aan die polisiebestuur gerig waarin hulle eis dat die “dreigementbriewe” teruggetrek word anders gaan hulle die saak hof toe neem.

Maroela Media het vroeër berig stakende operateurs beweer hulle verdien soveel as R100 000 per jaar, is erg oorwerk en dat sentrums onderbeman is. Dit beteken dat sommige noodoproepe nie opgevolg word nie omdat werkers skofte van tien tot 12 uur moet werk.

Geskille ten opsigte van betaling en werksomstandighede sloer reeds sedert 2013.

Lees die vorige berigte oor die 10111-staking op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

christa ·

dit gaan maar lekker in die land. Die land word onregeerbaar gemaak deur leegleers en die regeering aanvaar dit net. Hulle moet afbetaal word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.