10111-staking: ‘Minister moet ag slaan op haglike werksomstandighede’

Argief

Terwyl gesprekke tussen die polisie se bestuur en die Suid-Afrikaanse Polisie-unie (Sapu) by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) voortduur om ʼn skikking vir die 10111-staking te vind, het die DA ʼn besoek by die inbelsentrumhoofkantoor afgelê om ʼn beter prentjie oor die werksomstandighede daar te kry.

Zakhele Mbhele, DA-LP en woordvoerder vir polisie, en Kate Lorimer, lid van die Gautengse wetgewer en DA-woordvoerder vir openbare veiligheid, het die inbelsentrum in Midrand Maandag besoek.

“Die besoek was deel van pogings om die toestand van werksomstandighede by die sentrum te bepaal. Operateurs beweer dat hulle maar R100 000 per jaar verdien en erg oorwerk en onderbeman is. Dit beteken dat sommige noodoproepe nie opgevolg word nie omdat werkers tussen 10 tot 12 uur lange skofte moet werk. Dit is nie opbouend vir optimale funksionering in ʼn uitdagende omgewing waar mense lewensbelangrike situasies moet hanteer nie,” het die DA in ʼn verklaring gesê.

Volgens die DA sloer geskille ten opsigte van betaling en werksomstandighede sedert 2013 en die opeenvolgende polisieministers en nasionale polisiekommissarisse kon nie daarin slaag om ʼn werkbare oplossing vir die probleme te vind nie.

“Die huidige minister van polisie, Fikile Mbalula, kan nie beweer hy is geskok oor die nuus oor die dreigende staking nie, want operateurs het reeds verlede week en laas maand gewys hulle is ernstig daaroor om te staak.”

Die DA het gesê die 10111-oproepsentrums maak deel uit van kritieke noodreaksie-infrastruktuur en die stryd teen misdaad. Dit is noodsaaklik dat hierdie sentrums te alle tye optimaal funksioneer om inwoners veilig te hou.

“Weens verlede week se staking moes polisiebeamptes noodgedwonge hul ampspligte versaak om die inbelsentrums te beman, wat die kwessie van onderbemanning en ʼn tekort aan hulpbronne in die polisie vererger het. Dit het ʼn negatiewe uitwerking op die polisie se vermoë om ons veilig te hou.”

Volgens die DA moet Mbalula dadelik aandag gee aan die “haglike werksomstandighede” van oproepsentrumoperateurs sodat die mense van Suid-Afrika weer vertroue in hierdie noodreaksiediens kan herwin.

Lees die vorige berigte oor die 10111-staking op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

oud sporie ·

ek het vir jare 12 uur skofte gewerk, soms 18 uur skofte, 7 dae per week

irma ·

Die (10111) inbel sentrum se mense soek verhoging Hoekom hille doen geen gevaarlike werk nie. Oproepe word nie beantwoord nie en as hulle antw moet die boodskap 10 keer verduidelik word want hulle kan nie spel nie . Veronderstel jy se bv. NIGHTINGALE STR. 222 DAN SPEL HULLE VERKEERD SO WORD DIE VOERTUIG NA N VERKEERDE ADRES GESTUUR EN NIE OMDAT DIE POLISIE BEAMPTE VERKEERD IS NIE NEE DIE OPERATEUR WEET NIKS VAN SPELING NIE. EN SO WORD N POLISIE BEAMPTE SE LE INGEVAAR GESTEL WANT HY JAAG 160KM PER UUR NA N VERKEERDE ADRES TOE. GEE LIEWER VIR DIE POLISIE BEAMPTES VERHOGING WANT HULLE IS ALTYD IN GEVAAR.

Elsie ·

Hulle werk darem nie te hard nie. Gewoonlik kry mens geen antwoord nie en word eerder gehelp deur Vodacom se noodnommer te skakel.

hiehie ·

Al word hul ook dubbel betaal wat hul nou kry, gaan daar geen verandering in hul houding en diens wees nie!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.