10111-staking: Vakbond verontagsaam waarskuwing

Argieffoto: https://pixabay.com

Stakende 10111-operateurs het Vrydag ʼn waarskuwing deur die polisiebestuur verontagsaam om terug te keer na hul poste.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê die polisiebestuur het stakende operateurs gewaarsku om teen Vrydag terug te wees op hul poste of om tugstappe te verwag. Die staking word nou as onbeskermd beskou.

Sommige operateurs van die polisie se 10111-inbelsentrums wat lede van die Suid-Afrikaanse Polisie-unie (Sapu) is, staak sedert Augustus op ʼn geen-werk-geen-betaling-grondslag.

Volgens Naidoo was dit aanvanklik ʼn beskermde staking. Daar is egter vroeër vandeesmaand ʼn ooreenkoms met die Veiligheidsektorbedingingsraad (SSSBC) aangegaan waarvan die meerderheidsvakbond Popcru en die polisie ondertekenaars is. Hoewel Sapu nie ʼn ondertekenaar van die ooreenkoms is nie, is die ooreenkoms afdwingbaar en is die staking onbeskermd verklaar.

Oscar Skommere, Sapu se hoofsekretaris, het egter Vrydag gesê die ooreenkoms het nie aandag gegee aan die vereistes van sy lede nie. Hy sê voorts dit toon dat die polisie herstrukturering sonder behoorlike konsultasie wil implementeer aangesien sommige werkers weer vir hul posisies moet aansoek doen.

“Om briewe aan ons lede uit te reik en hulle met tugstappe te dreig is onregverdig. Die polisie se ooreenkoms met hul liefling-vakbond Popcru gee nie aandag aan ons eise aan nie,” het Skommere gesê.

“Ons het ʼn brief aan die polisiebestuur gerig en hulle gesê om hul dreigementbriewe terug te trek anders vat ons hulle hof toe. Ons regspan is reeds besig om die nodige dokumente vandag nog in te dien.”

Maroela Media het vroeër berig stakende operateurs beweer hulle verdien R100 000 per jaar, is erg oorwerk en dat sentrums onderbeman is. Dit beteken dat sommige noodoproepe nie opgevolg word nie omdat werkers skofte van tien tot 12 uur moet werk.

Geskille ten opsigte van betaling en werksomstandighede sloer reeds sedert 2013.

Lees die vorige berigte oor die 10111-staking op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.