Die polisie het laat Donderdag gesê gebeurlikheidsplanne is in werking gestel nadat gesprekke tussen polisiebestuur en die Suid-Afrikaanse Polisie-unie (Sapu) oor salariskwessies rakende 10111-operateurs ʼn dooiepunt bereik het.
Genl.maj. Sally de Beer, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê Sapu het hom aan gesprekke by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) onttrek en die beskermde staking by 10111-oproepsentrums word na verwagting Vrydag hervat.
“Ons wil gemeenskappe gerusstel dat gebeurlikheidsplanne reeds by 10111-oproepsentrums ingestel is om seker te maak noodoproepe word beantwoord en opgevolg,” het sy gesê.
“Dié planne is reeds tydens verlede maand se staking getoets en as suksesvol bewys.”
De Beer het gesê die beginsel van geen-werk-geen-betaling geld vir stakende personeel.
“Ons waarsku mense egter om nie onnodige of fop-oproepe na die 10111-nommer te maak nie en ook om hulle daarvan te weerhou om die nommer te bel om te ‘toets’ of operateurs werk, aangesien dit ekstra druk op die stelsel plaas.”
Sy het gesê die polisiebestuur bly verbind tot die onderhandelingsproses deur middel van die toepaslike platforms.
Maroela Media het vroeër berig operateurs beweer dat hulle R100 000 per jaar verdien en erg oorwerk en onderbeman is. Dit beteken dat sommige noodoproepe nie opgevolg word nie omdat werkers skofte van tien tot 12 uur moet werk.
Geskille ten opsigte van betaling en werksomstandighede sloer sedert 2013.
Lees die vorige berigte oor die 10111-staking op Maroela Media.
Julle hoef ons nie te waarsku nie. Daai nommer bel geen mens meer nie. Hulle kan maar gerus staak dit gaan niemand pla nie
Of hulle nou staak of werk dit is dieselfde …onkundig is nie die woord nie. Bel 10111 en sien waarmee jy te doen kry al praat jy engels ek moes Boom straat seker 5x spel en intussen brand die gebou …so wat help dit tog met so n lae vlak van begrip en verstand !