10111-werkers ‘sal staking verskerp’

Stakende werkers van die polisie se 10111-noodinbelsentrum, Motshidi Talakgale en Bethuel Nkuna, en Oscar Skommere, Sapu se sekretaris-generaal. Foto: Getrude Makhafola/ANA

Stakende operateurs by die polisie se 10111-noodinbelsentrum het Donderdag gesê hulle sal hul staking verskerp indien daar nie aan hul eise gehoor gegee word nie.

Bethuel Nkuna en Motshidi Talakgale, lede van die Suid-Afrikaanse Polisie-unie (Sapu), het gesê behalwe vir die feit dat hulle min betaal word, is die werkomstandighede by die Midrand-inbelsentrum “onuithoudbaar”. Volgens die twee 10111-operateurs benodig hulle ook berading omdat hulle die oproepe van mense in nood, wat die polisie se hulp dringend versoek, moet hanteer.

“Ons is ongeveer 40 werkers in die inbelsentrum per dag wat meer as 200 oproepe op ʼn stil dag moet hanteer. Einde van die maand is dit die ergste, want daar is kontant wat rondgaan. Ons ontvang traumatiese oproepe wat ons moet deursit na die polisie toe en terwyl jy probeer help, hoor jy geweerskote in die agtergrond en die lyn gaan dood. En dan moet jy net aanbeweeg na die volgende inbeller,” het Nkuna gesê.

Sapu is geaffilieer met die vakverbond, die South African Federation of Trade Unions (Saftu).

Nkuna het gesê die telefone word nou beman deur polisielede wat nie opgelei is om oproepe van beangste mense te hanteer nie. “Die enigste tyd wanneer die werkgewer omgee oor ʼn werknemer, is wanneer hulle afwesig is by die werk. Dan probeer hulle uitvind wat die probleem is. Ons het nog nooit berading ontvang nie, hoewel hulle weet wat ons probleme is,” het Nkuna gesê.

“Ons werk saam met die polisie, ons ken hulle op hul name. Kan jy jou die trauma indink om te luister hoe ʼn polisielid aan die ander kant van die lyn doodgeskiet word? Ons het ʼn baie moeilike werk.”

Oscar Skommere, Sapu se sekretaris-generaal, het gesê die probleme by die inbelsentrum kom al sedert 2013 aan toe werknemers met die polisiebestuur vergader het om hul salarisvlakke in die inbelsentrum te bespreek. Die salarisse wat aan werkers by die 10111-sentrum betaal word, is nie dieselfde as ander regeringsinbelsentrums nie.

Volgens Skommere het Riah Phiyega, die destydse nasionale polisiekommissaris, die polisiebestuur opdrag gegee om die salarisse aan te pas in pas met die ander inbelsentrums soos Sassa, Sars en die presidensiële blitslyn. “Die taakspan het aanbeveel dat die salarisvlak by 1011 aangepas word tot vlak 7 (R226 000 per jaar),” het Skommere gesê.

Die polisiebestuur het egter nie die aanbeveling geïmplementeer nie. Werkers het in Desember besluit om ʼn optog na die polisie se hoofkantoor in Pretoria te hou, maar is in hul spore gestuit deur die polisiebestuur wat ʼn vergadering versoek het. Die vergadering het egter nie die werkers se ontevredenheid opgelos nie.

ʼn Memorandum is weereens in Junie vanjaar aan die bestuur oorhandig en nadat daar weer geen oplossing gevind is nie, het die werkers besluit om te staak. “Ons onderhandel nou al vir jare met die SAPD. Hulle het van plan verander nadat hulle aanvanklik ingestem het om hierdie kwessie op te los. Die SAPD het selfs vir ons gesê ons is nie welkom by die onderhandelingstafel nie, want hierdie is skynbaar ʼn kwessie tussen die bestuur en die werkers,” het Skommere gesê.

Hy het gesê hy het ʼn brief aan die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) geskryf en hulle het aangebied om in te gryp om die geskil op te los.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

johnny_walker ·

wie bel nog 10111 ?! nee regtig , wat doen hulle die heeldag daar ?

Pieter Ellis ·

n Mens se eerste reaksie is NEE, hoekom alweer staak? En in so n kritiese area.

Maar dan moet mens ook besef dat werkers gatvol raak van leë beloftes. Ek hoop van harte die bestuur van SAPS doen nou iets.

Renier Lubbe ·

Wanneer wekers staak erken instansies baie selde indien die staking gaan oor jarelange probleme en beloftes wat nie nagekom is nie.

Polisie, brandweer, ambulans werkers kry trauma behandeling wanneer hulle dit versoek. Sekerlik kan hierdie werkers dit ook kry.

Daarmee sê ek nie dat die diens van die 10111 sentrums gewoonlik goed is nie maar arbeidsprobleme kan ook diens benadeel.

Dovaz ·

Bestaan daai nommer nog of werklik? Is daar mense wat daar werk? Wie betaal die lot??

Jaco Grobler ·

200 oproepe per dag tussen 40 mense…. Ek wonder hoeveel oproepe hanteer ‘n private inbelsentrum gedissiplineerd met 40 mense, 4000 tot 20 000?

SE MAAR NET ·

Jip jy is reg Jaco. 200 oproepe deel deur 40 mense, dit is gemiddeld 5 oproepe per persoon per dag….?

Ann ·

Ek kan amper verstaan dat die mense miedeloos raak, as ek darem iemand telefonies moet probeer help en ek hoor geweerskote in die agtergrond … Ai ek hoop hulle sal gehelp word, veral mey die teaumatiese behandeling.

anton ·

Snaaks dat die wat werk het, altyd meer geld soek terwyl daar derduisende ander mense daar buite is wat graag die werk sal wil hê!!!
Wanneer is hulle eerder net bly dat hulle darm n werk het???

J ·

200 oproepe gedeel deur 40 werknemers =5 oproepe per dag per werknemer. Ja hopeloos te veel werk .

Victorious ·

Daar is honderde mense wat nie eers R8000 per maand verdien nie. Ek ken hulle by name en hulle kla nie, te dankbaar vir werk.
Kla minder en werk harder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.