102 renosters al vanjaar in KZN gestroop

Veldwagters werk dag en nag onder moeilike omstandighede om stropers te stuit voor hulle naby die renosters kan kom. (Foto: Save The Rhino)

KwaZulu-Natalse bewaringsowerhede is diep bekommerd oor die getal renosters wat reeds vanjaar in parke in die provinsie gestroop is.

Volgens KZN Wildlife is 102 renosters al vanjaar gestroop – dieselfde getal as wat in die ganse 2021 hier gestroop is.

Musa Mntambo, woordvoerder van KZN Wildlife, sê meer as 300 voorvalle is boonop vanjaar aangemeld, hoewel wildbewaarders in etlike gevalle die stropers kon stuit voor hulle die renosters vir hul gesogte horings kon doodmaak.

Volgens die organisasie Save the Rhino, is die Hluhluwe-iMfolozi-park in KwaZulu-Natal die geskiedkundige tuiste van die suidelike witrenosters en die provinsie het die grootste digtheid renosters in Suid-Afrika. Die gebied speel dus ʼn geweldige belangrike rol in die bevolking van wit- en swartrenosters.

Terwyl stropers toenemend toeslaan, word van lugsteun, honde-eenhede en wildbewaarderspanne gebruik gemaak om die vlaag stropery te stop. Patrollies is verhoog, voet- en voertuigpatrollies word gereeld gedoen, terwyl veldwagters op perde ook die gebied dophou.

“Ons wildbewaarders werk snags onder alle toestande en is onder ongelooflike druk en spanning. Sonder hul pogings sou renosterstropery veel erger gewees het,” het Dirk Swart, afdelingsveldwagter by die Hluhluwe-iMfolozi-park, aan die organisasie gesê.

Mntambo sê terwyl Suid-Afrika die afgelope meer as twee jaar onder een of ander vorm van inperking was, het dit stropers minstens ook gestuit. Hoewel toeriste – ʼn broodnodige bron van inkomste vir die bewaringspogings – nie in groot getalle kon opdaag nie, het dit minstens beteken stropers moes ook in dié tyd laag lê. Dit blyk egter dat hulle nou met mening terug is.

Sommige private reservate onthoring hul renosters, wat dalk kan aanleiding gee tot die stroop van diere in KZN Wildlife se parke.

Volgens die owerheid se syfers is 93 renosters in 2020 in die provinsie gestroop en 102 verlede jaar.

“Ons is bekommerd oor elke renoster wat neergevel word,” sê Mntambo.

Hy sê die manier waarop veldwagters ontplooi word, word nou aangepas in ʼn poging om die stropery te stuit.

Die departement van bosbou, visserye en omgewingsake het in Februarie, toe verlede jaar se renosterstroperysyfers bekend gemaak is, gesê die afname in renosterstroperygevalle in die Krugerwildtuin het die onbedoelde gevolg gehad dat stroperysindikate nou na ander gebiede as makliker teikens uitwyk. Dit het in daardie stadium gelei het tot die teiken van private reservate in Limpopo en Mpumalanga.

Só lyk verlede jaar se syfers:

Provinsie/nasionale parke201920202021
SANParke328247209
Gauteng522
Limpopo451838
Mpumalanga341339
Noordwes321932
Oos-Kaap200
Vrystaat11124
Noord-Kaap411
KwaZulu-Natal13393102
Wes-Kaap004
Totaal594394451

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Marius

Eerstens sal die getalle afneem want die renosters raak baie minder en dus moeiliker om op te spoor. Die regering moet hul “slapgat” houding laat vaar en toestemming gee dat stroper op sig geskiet moet word. Daar moenie nog hofsake, wat nog ‘n klomp geld kos, wees nie.