103 jaar tronkstraf ná moord op EMPD-beampte

Argieffoto (Foto via Twitter)

Bhekisisa Samora Dlamini (38), ʼn onwettige myner, is in die Johannesburgse hooggeregshof tronkstraf van 103 jaar opgelê vir die moord op ʼn beampte van die Ekurhuleni-metropolisie, Johannes Jacobus van der Linde. Die voorval het in Junie 2021 plaasgevind.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Van der Linde en vyf van sy kollegas was op soek na onwettige myners in die bosse in die omgewing van Primrose toe daar op hulle geskiet is. “Die beamptes het teruggeskiet, maar Van der Linde is noodlottig gewond.”

Dlamini is die enigste verdagte wat op die toneel in hegtenis geneem is. Sy makkers het weggekom. Hy is op 2 September 2022 skuldig bevind op aanklag van moord, vyf aanklagte van poging tot moord, die besit van ʼn onwettige vuurwapen en ammunisie.

Senior staatsaanklaer adv. Thamsanqa Mpekana het die slagofferimpakverslag aan die hof voorgehou oor die impak wat die beampte se afsterwe op sy gesin gehad het. “Sy vrou het gesê haar gesin het sielkundige, fisiese en verstandelike trauma gelei weens sy ontydige afsterwe. Sy het gesê haar man was die broodwinner en sy afsterwe het haar en haar kinders, asook die oorledene se ma en sibbe, finansieel geknou. Die oorledene was ook hulle bron van inkomste.”

Mpekana het die hof versoek om in gedagte te hou dat die EMPD ʼn beampte verloor het weens die sinnelose moord, dat misdade met onwettige en verbode vuurwapens voortduur omdat oortreders oortuig is dat hulle nie opgespoor kan word nie. “Die land vra wetstoepassingsowerhede om sterk op te tree teen onwettige myners wat die land aanval en misdade teen ʼn skrikwekkende koers pleeg. Ek maan die hof om ʼn baie duidelike boodskap te stuur dat sulke misdadigheid vasgevat sal word in ons hof,” het Mpekana gesê.

Regter Moosa het saamgestem en bygevoeg die misdade was sinneloos en genadeloos.

Mjonondwane het bygevoeg die NVG loof ao. Ursula Kelly van die Valke in Germiston en adv. Mpekana vir hul toewyding om gewetenlose misdadigers uit die samelewing te verwyder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Di ·

Daar is ongelukkig BAIE van hulle in die land. Die regering is te slapgat om iets daaraan te doen, dalk nog self ‘n vinger in die pie met hierdie onwettige myners wat ook die land oorgeneem het. Our brothers is mos almal WELKOM in die land, wettig of onwettig, no problem!

Rocco ·

Hoekom kry die ou ‘n vonnis van 103 jaar vir moord, en ander net 20 jaar. Dit klink meer gepas vir my

Agge nee ·

103 jaar vir moord oo ‘n polisiebeampte – ses jaar as jy jou tweejarige kind vermoor en in die plafon wegsteek. Hoe werk die som?

Swerwer ·

Dit is reg, maar bring die doodstraf terug en pas wet en orde toe sodat hierdie noodlottige gevalle stop gesit kan word.

Jubba ·

So ek gaan nog 103 jaar moet leef om te werk en belasting geld offer vir sy bersies en kossies en tv stories in sy kamertjie. Hoera!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.