103-jarige sterf ná sy in brandende huis vasgekeer is

Argieffoto.

Argieffoto.

ʼn 103-jarige vrou van Noordwes is Woensdagoggend dood toe sy in haar huisie naby Sun City toegesluit was terwyl ʼn brand in haar slaapkamer gewoed het.

Kapt. Paul Ramaloko, provinsiale polisiewoordvoerder, het Donderdag die bejaarde vrou as Betty Mantholwane Modisakeng geëien en gesê sy was een van die oudste inwoners van die Ledig-omgewing.

“Daar het ʼn brand in haar HOP-huisie uitgebreek en sy het gesterf weens rookinaseming,” het Ramaloko gesê.

Die brand het glo in die vroeë oggendure in haar slaapkamer uitgebreek. “Sy was in haar huis vasgekeer aangesien haar 51-jarige kleinseun haar in die huis toegesluit het omdat hy elders oorgeslaap het.”

Die vrou se bure het wakker geword en digte rook uit haar huis sien kom. Hulle het uiteindelik die deur oopgebreek en die brand geblus.

“Sy is langs die voordeur aangetref met haar kierie langs haar,” het Ramaloko bygevoeg.

Paramedici van Sun City het haar op die toneel dood verklaar.

Ramaloko het gesê voorlopige ondersoek dui daarop dat ʼn kers moontlik die brand veroorsaak het.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek en ondersoek ook ʼn saak van brandstigting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Theresa ·

Agge nee my magtig man! Dit kan mos nie wees nie!! Ek hoop daardie kleinseun word van moord aangekla. Kan nie dink daar is mense op hierdie aarde wat so kan wees met oumensies nie.

Jakoba ·

Ag foei tog. Sy het so oud geword net om so tragies te sterf. Sy het seker desperaat met haar ou kierietjie tot by die voordeur geloop net om te ontdek dit is gesluit en sy kan nie uitgaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.