104 jaar tronkstraf vir plaasaanvaller

Argieffoto.

Argieffoto.

ʼn Plaasaanvaller van Mosambiek wat skuldig bevind is op 23 aanklagte van gewapende roof, is Dinsdag in die Nelspruit-streekshof tot 104 jaar tronkstraf gevonnis.

Landdros Andre Geldenhuys het gesê Lorenzo Bedome Gideon Mazunze (33) is “gelukkig ʼn slegte skut”, het ʼn Sapa-korrespondent berig. “Meeste van jou slagoffers is deur die genade van God teen die koeëls gered,” het hy gesê.

Mazunze het in 2007 plase in Malalane en Barberton beroof en die inwoners geteister. Hy is tydens sy inhegtenisneming op 22 Februarie 2008 geskiet toe hy ʼn gesin op ʼn plaas in Malalane wou beroof. Hy is skuldig bevind op aanklag van huisbraak en diefstal, huisbraak met die doel om te roof, oortreding, gewapende roof, pogings tot moord, en opsetlike saakbeskadiging.

“Die Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa is oor die naweek deur iemand soos jy doodgeskiet. ʼn Politikus is onlangs in Witbank geskiet terwyl hy geld by ʼn kitsbank getrek het. Aangesien dit wil voorkom dat niks gedoen kan word om misdadigers soos jy te stop nie, sal die hof jou moet hanteer, aangesien jy ʼn gevaar vir die samelewing is,” het Geldenhuys gesê.

Hy het ook gesê Mazunze was nie alleen nie. “In al die sake is vuurwapens en ander wapens gebruik. Al die bewyse dui daarop dat jy die een is wat die vuurwapen hanteer en die skote gevuur het.”

Andre van Rooyen, ʼn boer van Malalane, is in die veiligheid van sy huis met ʼn byl aangeval. “Daarna het jy hom in sy maag geskiet en hom gewond.” Van Rooyen is nie ernstig gewond in die aanval nie.

Mazunze het Gloria Morgan, ʼn boervrou, tydens ʼn gewapende roof in Barberton geskiet. “Die koeël het haar gelukkig gemis.”

Volgens Geldenhuys het Mazunze en sy medepligtiges hoofsaaklik op gastehuise en plaashuise toegeslaan, veral in Malalane. “Jy het skote op vroue en kinders gevuur, insluitend mense wat siek was. Jy het geen agting vir menslike lewe nie.”

Hy het gesê die beskuldigde het net waardevolle items soos juwele en kontant gesoek. Op twee plase het hy die arbeiders se lone gesteel, R23 000 en R200 000 kontant. “Jy het selfs op ʼn dokter en sy vrou geskiet toe jy hulle beroof het. Gelukkig het die koeël hom ook gemis. Jy het nie net wit boere aangeval nie, maar ook persone van ander rasse wat ʼn bestaan maak op plase.”

Mazunze is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir ʼn moord wat in 2012 gepleeg is.

“Jy het meeste van hierdie misdade in Malalane gepleeg en het teruggekeer na Mosambiek om te spandeer wat jy ingekry het en toe nog aanvalle beplan.”

Mazunze sal nooit kwalifiseer vir parool nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Beukes Geldenhuys ·

Dit is nou als goed en wel en ek is dankbaar hy het nie een van die mense in die sake doodgemaak gekry nie maar dan lees mens hy het 15 jaar vir `n moord gekry wat hy in 2012 (net die ander dag) gepleeg het. Ek wil net weet – dalk kan iemand met regskennis my help, HOE OP DEES AARDE KRY MENS NET 15 JAAR VIR MOORD? Met die afskaffing van die doodstraf moet lewenslank mos die enigste ander straf wees vir moord? En word die virus in hoe sorg toegesluit of gaan hy kan ontsnap?

Anton ·

Mishka hy jy moet in ag neem hy was nie skuldig bevind aan moord nie

Mishka ·

True Anton, stenig my, maar ek en vele ander glo nog steeds nie aan sy “onskuld” nie. As jy snags opstaan om te gaan pp, gaan jou maat tog weet jy staan op. En tweedens, die eerste reaksie as jy iets in jou huis hoor, is om jou maat te vra of hy/sy gehoor het. Mens staan nie op skiet wild en wakker nie. En ‘n inbreker se doel is om in te kom en te kom kwaad doen, hy gaan nie homself in ‘n toilet toesluit nie. Hy was net flippen gelukkig dat hy “celeb” is, ryk is en die “regte” regter gehad het. En hy het agter sy gebrek geskuil. Sy gebrek het hom nie gekeer om 4 skote te skiet nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.