105 jaar tronkstraf vir renosterstropers

(Foto: ANA)

Drie mans, onder wie twee onwettige immigrante, is gesamentlik 105 jaar tronkstraf opgelê nadat hulle in 2017 drie renosters in die Krugerwildtuin van kant gemaak het.

Walter Hendrick Mangane (58), Emmanuel Mdluli (32) en Shangani Mathebula (29) het Vrydag in die Skukuza-landdroshof in Mpumalanga verskyn waar hulle gevonnis is.

Volgens Isaac Phaahla, woordvoerder van SANParke, is Mdluli en Mathebula albei onwettige immigrante van Mosambiek.

Die stropers is destyds op heter daad betrap terwyl hulle die liggaamsdele van die renosters gebuit het.

Mangane, ʼn Suid-Afrikaner wat verskeie sake van stropery van meer as 10 jaar gelede teen hom het, is altesaam 45 jaar tronkstraf opgelê. Hy is skuldig bevind aan onder meer die onwettige betreding van ʼn nasionale park, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, asook renosterstropery.

Mathebula is skuldig bevind aan dieselfde oortredings as dié van Mangane, maar is tot 30 jaar tronkstraf gevonnis. Mdluli is ook 30 jaar tronkstraf opgelê, hoewel hy reeds 16 jaar uitdien weens ʼn onverwante stroperysaak. Vrydag se vonnis sal egter gelyklopend uitgedien word.

Mathebula en Mdluli is albei vyf jaar tronkstraf opgelê omdat hulle onwettig in Suid-Afrika is, maar dié vonnis sal gelyklopend met die ander aanklagte uitgedien word.

Die drie stropers sal gesamentlik 105 jaar tronkstraf uitdien.

“Hierdie vonnisse moet as ʼn afskrikmiddel dien vir diegene wat ons natuurlike erfenis wil uitwis,” het Gareth Coleman, bestuurshoof van die Krugerwildtuin, gesê.

“Ons het die afgelope paar maande ons veiligheidspogings in die park opgeskerp, maar die suksesvolle vervolging van skuldiges vereis dat die regstelsel doeltreffend funksioneer. Hierdie swaar vonnis motiveer die spanne wat dag en nag onvermoeid werk om ons wild te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Danie ·

In dîe land sit jy langer in die tronk as jy n renoster dood kap as wat jy sal sit as jy n boer dood kap…..

Porseleintjie ·

Wou dieselfde se en lees toe jou kommentaar. Ek stem, in hierdie land tel n dierelewe verseker meer as n boer sn.

Misky ·

Dit klink indrukwekkend as jy die vonnis hoor, maar die gelyklopende vonnisse help nie veel nie en dien as geen afskrik vir misdadigers nie. Hy sit dieselfde tydperk, of dit nou vir 1, 2 of 10 renosters is

Androclus ·

105 jaar tronkstraf vir renosterstropers en 30 jaar vir mens dood maak.
Belaglike storie

Mariana ·

Hmmm 30 jr as ons so gelukkig is…..parool ook mos nog faktor.

Blikkies ·

Gesamentlik 105 jaar tronkstaf uitdien? al deur jy dit tussen die drie is dit 35 jaar elk , wat nooit ooit ooit in hierdie land sal gebeur nie. Een van hierdie goeie dae is hulle almal uit op parool en begin maar weer. Ek stem saam met een van die kommentare, die vonnisse klink indrukwekkend, maar dit is waar dit bly.

Nico ·

Al is dit ‘n onskuldige dier wat hom nie kan self verdedig nie, wat van mense moord en die moord op ‘n plaasboer wat 20 jaar en minder gevonnis word, die howe moet hul sake beter hanteer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.