108 honde uit haglike omstandighede verwyder

Een van die honde wat by die perseel verwyder is. (Foto: DBV)

Waarskuwing: Van die inligting en foto’s in die berig kan sensitiewe lesers ontstel.

Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Virginia in die Vrystaat het 108 honde by ʼn huis in Odendaalsrus verwyder nadat die diere daar in haglike omstandighede aangetref is.

ʼn Skokkende toneel het DBV-inspekteurs begroet toe hulle op ʼn wenk gereageer en die eiendom besoek het. Thea Smit van die Virginia DBV sê die eiendom is as ʼn diereskuiling in ʼn residensiële gebied bedryf, maar die omstandighede waarin die diere aangehou is, was uiters skokkend.

“By inspekteurs se aankoms by die huis het die honde met mekaar baklei en mekaar gebyt soos hulle baklei het vir aandag van die besoekers,” verduidelik sy.

“Honde wat in ʼn buitegebou op die perseel gevind is, was brandsiek en verwaarloos. ʼn Basset het bloeiende absesse gehad wat volgens die eienaar al weke lank behandel is. Die absesse was só erg dat die hond glad nie kon beweeg nie weens die pyn en ongemak. Die hond se hele lyf was geïnfekteer en het baie onaangenaam geruik.”

Inspekteurs het ook ʼn bejaarde labrador op ʼn koue sementvloer aangetref wat nie kon beweeg nie. Smit sê daar word vermoed dat die hond aan erge artritis ly. Die hond het probeer om op te staan, maar het telkens net weer geval.

Van die honde wat by die perseel verwyder is. (Foto: DBV)

“’n Groot boerboel het misvormde bene en vergroeisels oor sy hele lyf gehad. Die honde het gekrap weens ʼn veltoestand en die meeste van hulle het ooglopende oorprobleme met geswelde en geïnfekteerde ore gehad,” sê sy. “Ontlasting het oral rondgelê en die stank was moeilik om te verdra, maar ons was vasbeslote om die diere te help.”

Smith sê nog diere, insluitend ʼn vark, is in verskillende areas van die perseel aangetref, en was in net so ʼn skokkende toestand. Van die diere het eksterne parasiete gehad en ander was aggressief en nie gesosialiseer nie. Die honde het ook ontlasting geëet. “Dit was ʼn verskriklike en ontstellende toneel om te sien,” sê sy.

Sy verduidelik die eienaar van die “sogenaamde skuiling” het die perseel as ʼn nie-winsgewende organisasie geregistreer en sodoende fondse van die publiek bekom om die skuiling te bedryf. “Dit is egter duidelik dat hierdie fondse nie bestee is soos dit veronderstel was nie. Sy moes waarskynlik ook van die fondse gebruik het om haarself finansieel te ondersteun,” sê Smit.

Die DBV het 108 honde van die perseel verwyder waarvan baie van kant gemaak moes word om hul lyding te beëindig. “Die ondersoek duur voort en ʼn saak van dieremishandeling sal aanhangig gemaak en opgevolg word,” sê Smit.

“Maatskaplike werkers is ook gekontak om die eienaar van die skuiling by te staan, aangesien ons nie kan verstaan hoe sy gedink het dié situasie is aanvaarbaar nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

59 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Swart

Mag God die Skepper julle genadig wees vir julle wreedheid die dag as julle voor Hom staan.

Hanlie

Dit is skokkend. Hoe kan iemand dit aan ‘n onskuldige dier doen. Hoop sy kry ‘n swaar boete.

Zettie

Sies!

Lee

Goeie genade kan iemand dit aan weerlose diere doen hoop hulle word gestraf

Adel

My hart…… hoe doen mense dit aan weerlose diere??? Ek huil en is ook befoeterd!! Dankie vir die persoon wat dit aangemeld het, wie weet hoe lank leef daai diere al so in pyn en absolute walglike omstandighede……….