11 beseer tydens skietery in Jhb

Mary Fitzgerald-plein (Foto: AfroTourism)

Die Gautengse regering het twee skietvoorvalle in die vroeë oggendure op Nuwejaarsdag ten sterkste veroordeel.

Skote is omstreeks 03:00 gevuur in Mary Fitzgerald-plein in Newtown, Johannesburg. Elf persone is gewond en na hospitale geneem. Volgens paramedici is vier mans ernstig beseer.

Maroela Media het vroeër berig ʼn skietery het ook omstreeks 01:00 buite Poppy’s-restaurant in Melville plaasgevind. ʼn Swart BMW X3 het verby die restaurant gery en ʼn skieter het losgebrand op klante wat buite die restaurant op die sypaadjie gesit het. Twee vroue is noodlottig gewond en is op die toneel dood verklaar. Ses persone is na hospitale geneem. Twee van die beseerdes is in ʼn kritieke toestand.

“Ons het vandag opgestaan met die skokkende nuus dat persone doodgeskiet is en ander kritiek beseer is,” lui die verklaring. “Ons is baie hartseer oor dié barbaarse optrede. Nuwejaarsdag is ʼn dag van hoop en vieringe, ʼn dag waar mense ʼn beter toekoms beplan.”

ʼn Voorlopige ondersoek oor die skietery by Mary Fitzgerald-plein het onthul dat die skieter verskeie skote van die boonste vlak van die M2 (suid)-dubbeldekkerbrug gevuur en die BBP-gebied geteiken het.

Niemand is nog in verband met die twee voorvalle in hegtenis geneem nie.

“Ons is vasbeslote om, as provinsie, misdaad teen 2030 te halveer. Dié voorval sal nie ons visie verhinder nie.”

Inwoners van Gauteng word aangemoedig om hulself verder te geniet en die polisie toe te laat om hul werk te doen. Enigiemand met inligting oor die voorvalle word versoek om na vore te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.