11 dood, gesin kritiek ná gru-ongeluk buite Marble Hall

Foto: Verskaf

Foto: Verskaf

Elf mense is Sondagaand dood en vyf mense, onder wie ʼn drie weke oue baba, is kritiek beseer in ʼn gru-ongeluk op die R573 ongeveer 12 km buite Marble Hall in Limpopo.

Gebede en beterskapwense het Maandag op sosiale media ingestroom vir Diaan en Janine Terblanche en hul drie weke oue dogtertjie, Dianiël, wat glo in die ongeluk betrokke was.

Mercia Blake, woordvoerder van Life24-ambulansdienste, het aan Maroela Media gesê paramedici is omstreeks 18:10 na die ongelukstoneel ontbied. ʼn Bakkie en ʼn Toyota Fortuner was in ʼn botsing reg van voor betrokke.

Volgens Blake is dit nog nie duidelik hoe die ongeluk gebeur het nie, maar volgens ooggetuies het die Fortuner ’n vragmotor verbygesteek waarna dit teen die bakkie, waarvan die hoofligte glo nie gewerk het nie, gebots het.

Die bakkie het 13 plaaswerkers vervoer wat vanaf ʼn nabygeleë sokkerstadion op pad terug huis toe was nadat hulle ʼn wedstryd gespeel het. Maroela Media verneem die Terblanche-gesin was in die Fortuner op pad na hul huis wat naby die sokkerstadion is.

“Die baba was in ʼn motorstoeltjie, so dit is nie duidelik hoe die baba sulke ernstige beserings opgedoen het nie, maar al drie insittendes van die Fortuner is baie ernstig beseer,” het Blake gesê. “Al drie het ernstige hoofbeserings opgedoen en die baba is oor haar hele liggaam beseer en het inwendige bloeding.”

Volgens Blake was tien van die bakkie se insittendes reeds dood toe paramedici op die toneel aangekom het. Die ander drie is kritiek beseer nadat hulle van die bakkie geslinger is tydens die botsing.

“Paramedici het omtrent 40 minute op een van die mans gewerk nadat sy hart op die toneel gaan staan het, maar ons kon hom nie weer bybring nie. Hy is op die toneel dood verklaar,” het sy gesê. Die ander twee is in ʼn kritieke toestand na die naaste staatshospitaal gehaas.

Die Terblanche-gesin word in die hoësorgeenheid van ʼn hospitaal in Middelburg behandel. Blake het gesê al drie se toestand is steeds kritiek. Die toestand van die twee oorlewende insittendes van die bakkie is nie in hierdie stadium bekend nie.

Lees die opvolgberig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Lizza ·

‘n Bakkie sonder ligte en onskuldige mense is beseer en oorlede. Sterkte aan die families en die familie wat ernstig beseer is.

Liza ·

Dit is so onnodig! Marble Hall en Groblersdal bid vir die spoedige herstel van die Terblanche gesin, en sterkte aan hulle ouers en familie.

magdel ·

baie sterkte aan die familie ons dink vreeslik baie aan julle en bid vir julle

Retha ·

Gebede vir die Terblanche gesin en simpatie aan familie van die oorledenes. Voertuie sonder ligte veroorsaak soveel noodlottige, onnodige lewens verlies. Mag ons Vader met al hierdie families wees.

Manlie Wagner ·

Ja nee kyk……. Ligte wat nie werk nie, Hoe op aarde moes Diaan die bakkie dan gesien het. So onodig. Ons bid vir julle. Sal nie ophou bid

Lize ·

Ek sit nou en luister na RSG en volgens hulle het die bestuurder van die Fortuner hom uit die voete gemaak na die ongeluk. Niks is gese van die bakkie wat nie ligte gehad het nie en ook nie van die ernstige beserings van die 3 in die fortuner nie. Wonder ook hoe de ongeluk die bestuurder van die fortuner kon verdwyn het , hy le dan kritiek in die hospitaal?.. Sulke goed maak my woedend. Kry julle feite agter mekaar.

Liza ·

RSG se feite is verkeerd, het van ‘n betroubare bron wat op die toneel was verneem dat die bestuurder van die BAKKIE weggehol het. Mnr Terblanche lê in hoësorg in Middelburg, hoe de hoenders sal hy nou sy vrou en kind net daar los? RERIG!!!

Sune van Heerden ·

Dagsê Lize

Ek bevestig sommer net ons verslaggewers het by die nooddienste en polisie bevestig niemand het van die toneel gevlug nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Liza ·

Hulle feite is verkeerd. Volgens ‘n betroubare bron wat op die toneel was het die bestuurder van die BAKKIE weggehol! Diaan lê kritiek in die hospitaal en hoe de hoenders sal hy nou sy vrou en kind net daar los en verdwyn??? Julle feite is verkeerd RSG!!!

Dave ·

…. ‘betroubare’ bron noem jy dit, Liza? ‘Betroubaar’? Jy sal jou waardes moet aanpas want dit blyk dat nièmand weggehardloop het nie. Jy sal jou woorde beter moet kies en versigtiger moet wees met bronne wat jy as betroubaar beskou.

Dave ·

Jou feite is klaarblyklik net so verkeerd soos die van RSG, Liza.

Peet Schabort ·

Sou hierdie dalk die eerste bewys wees dat die baba danksy die karstoeltjie, die ongeluk oorleef het? Te oordeel aan die foto is dit so. Sterkte aan almal in hierdie onnodige ongeluk indien die bakkie na alle waarskynlikheid sonder ligte op die pad was.
Ons paaie is onvoorspelbaar deur mensgemaakte ongelukke.

Peet Schabort ·

Bedoelende met die karstoeltjie nadat die wet einde April in werking getree het.

CHRISTA ·

Ek weet nie wat ons verkeerspolisie se pligte vandag behels nie. Op die Oos-Rand bestaan meer as 50% van die minibus taxis uit die ou Toyota minibusse wat alreeds volgens wetgewing JARRE GELEDE van ons paaie verwyder moes gewees het. Waarom word hulle nie deur die verkeerspolisie van ons paaie verwyder nie?

Hannelie ·

Al wat ons kan doen is om te bid vir Diaan, sy jong vrou en hul babatjie . Ek glo en bid dat hul in Jesus se Genesende hande is. Ons bid vir herstel en dat mense hul sal onderskraag en bystaan.

Charlotte ·

Die lewens van mense word daagliks geneem op ons land se paaie a.g.v nalatigheid, hierdie situasie sou heelwat anders gewees het, as die voertuig padvaardig was. 11 mense sou gelewe het en 3 mense sou nie vir hulle lewens geveg het nie! Daar is Pad blokkades reg oor die land, maar tog kry hulle nie voertuie van ons paaie af wat nie daar hoort nie!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.