11 dood ná vloede in Oos-Kaap

Vloede in die Oos-Kaap (April 2019) (Foto: Twitter)

Die Oos-Kaapse regering het bevestig elf persone is dood en twee word nog vermis as gevolg van onlangse vloede in die provinsie.

Sonwabo Mbananga, provinsiale woordvoerder, het gesê die kantoor van die premier het ʼn gesamentlike bedryfsentrum opgestel om rampbestuurpogings in die provinsie te koördineer ná vloede in Alfred Nzo, OR Tambo en Joe Gqabi-distriksmunisipaliteite.

Hy het gesê die provinsiale regering werk ook met betrokke staatsdepartemente en munisipaliteite om die omvang van die skade te bepaal.

Die Oos-Kaapse Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het ook bevestig dat 70 stempunte, insluitend skole en kleuterskole, deur die vloede geraak is.

Mbananga het gesê ʼn voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat brûe ineengestort en paaie beskadig is tydens die oorstromings. Die provinsiale regering is besig met ʼn dringende verslag wat aan die nasionale regering voorgelê sal word.

“Een van die prioriteite is om die 70 stempunte gereed te kry vir die nasionale verkiesing op 8 Mei, insluitend herstelwerk aan brûe en paaie met behulp van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag.”

Minstens 1 091 persone in Port St Johns, insluitend Green Farm, wat ontruim is, het intussen na hul huise teruggekeer.

Die departement van binnelandse sake het twee mobiele eenhede na Alfred Nzo en OR Tambo ontplooi om die uitreik van identiteitsdokumente te bespoedig aan burgers wat hul ID-dokumente en geboortesertifikate verloor het.

Die provinsiale departement van gesondheid het gesê twee klinieke is beskadig, naamlik die nuwe Sakhela-kliniek in die King Sabata Dalindyebo- plaaslike munisipaliteit en die Flagstaff-kliniek in die Ingquza Hill- plaaslike munisipaliteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Ai te veel water is ook nie lekker nie ? BID dat alles gou na normaal sal terugkeer ???

Karlahari ·

Die Oos Kaap
Agtergeblewe provinsie waarvan die ANC gemalikheidshalwe vergeet as hulle mond uitspoel oor die Wes Kaap
Gebrek aan lopende water, Long drops en modder skole……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.