11 in hof oor Virginia-grondgryp

Sowat 600 grondbesetters het op ʼn plaas net buite Virginia opgedaag, die veld begin brand en erwe vir hulself uitgemeet (6 Augustus 2018) (Foto: Verskaf)

Elf persone het Dinsdag in die Virginia-landdroshof in die Vrystaat verskyn op aanklag van betreding.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het gesê twee van die persone is vrygelaat op borgtog van R500 elk en nege verdagtes se aansoek om borgtog is afgekeur, omdat hulle nie hul nasionaliteit kon bewys nie. Die saak is tot 14 Augustus uitgestel.

Die 11 persone, sewe mans en vier vroue, is in hegtenis geneem ná sowat 600 grondbesetters Maandagoggend op ʼn plaas net buite Virginia opgedaag, die veld begin brand en erwe vir hulself uitgemeet het.

Mbambo het vroeër aan Maroela Media gesê die persone is in hegtenis geneem ná die polisie traangas moes gebruik om die skare van die plaas af uiteen te jaag.

“Die mense het die pad na Winburg met bande en vullis versper en die polisie met klippe bestook. Die polisie het ingegryp en die vullis verwyder. Later het nog ʼn groep betogers die pad agter die Meloding-nedersetting versper en hulle is ook uitmekaar gejaag,” het Mbambo bygevoeg.

Maroela Media het Maandag berig die besetters het omstreeks 08:00 by die plaas Christiana, wat aan Andries Pienaar behoort, opgedaag en die veld aan die brand gesteek. “Die boer het die polisie in kennis gestel en lede van die polisie-eenheid vir openbare orde, genoeg om met daardie skare af te reken, is na die toneel ontplooi,” het Mbambo verduidelik.

Johan Terblanché, brandbeskermingsbeampte van die omgewing, het gesê tussen 200 en 300 ha goeie rooigrasweiding is afgebrand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Irene ·

Nou hoekom hulle dit os malema wat agter alles sit tree nou teenoor hom op

Cobus ·

Goed om te hoor daar is optrede. Bepaal wie sit agter die optrede en maak ‘n voorbeeld van hulle met lang vonnisse agter tralies

Stuiwer ·

As die wet op grondonteiening sonder vergoeding eers in werking tree, sal die polisie moontlik nie meer hierdie betreders mag verwyder nie. Dis kommerwekkend!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.