11-jarige tydens bootongeluk op Hartbeespoortdam beseer

Hartbeespoortdam (Foto: NSRI via ANA)

ʼn 11-jarige meisie is in ʼn stabiele toestand in die hospitaal ná sy oor die naweek kritieke beserings opgedoen het tydens ʼn bootongeluk op die Hartbeespoortdam in Noordwes.

Arthur Crewe, stasiebevelvoerder van NSRI Hartbeespoortdam, het Sondag bevestiging ontvang dat die meisie in ʼn stabiele toestand in die hospitaal is. “Ons dink aan die gesin in dié tyd en ons wens haar spoedige beterskap toe,” het hy bygevoeg.

Die meisie was Saterdag saam met haar ma, pa, vyfjarige boetie en ʼn vriend van die gesin op ʼn boot toe die ongeluk gebeur het.

Crewe het gesê NSRI Hartbeespoortdam is omstreeks 15:00 ontbied na berigte ontvang is van ʼn bootongeluk op die dam naby die Ifafi-klub. “ʼn 15 voet-skiboot het vermoedelik ʼn boomstomp onder water getref, wat waarskynlik tydens onlangse reën van die Krokodilrivier in die dam ingespoel het. Die persone op die boot is tydens die impak uit die boot geslinger en die 11-jarige meisie het kritieke beserings opgedoen.”

Al vyf persone was op die boot toe die NSRI by die toneel opgedaag het. Die ma, pa, seun en vriend is ongedeerd. Hulle is na die oewer geneem.

“Paramedici het dadelik die meisie begin behandel en ʼn Netcare 911- mediese helikopter is ontbied. Behandeling het voortgeduur terwyl die kind ook na die oewer gebring is. Die meisie is daarna met die helikopter na ʼn hospitaal in Johannesburg geneem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Foefie ·

Nou leer ek ook weer iets: ek dag net ‘n see het ‘n kus en ‘n dam het ‘n wal. Wys jou nou net.

KAIROS ·

Onthou net, hulle het die National Sea Rescue Institute gestuur om te gaan help….dus moet dit n kus wees…

007 ·

Die NSRI is n besigheid nie net tot die see beperk nie. Die SAVloot is dan in Pretoria.

Mathys ·

Die wal is die wal by die sluise en die oewer is waar die water die land ontmoet?

Mathys ·

Goed om te lees dat die reddingsdienste soms ook lewens red!

Michael ·

Harties se water is so besoedel van die riool ek dink om in aanraking met die water te kom loop jy klaar die gevaar om siek te word,sal nie my kinders naby die water vat nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.