11-jarige verkrag, vermoor weens DNS-agterstand

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

ʼn Verkragtingsverdagte wat vrygelaat is weens vertragings in DNS-toetse by die polisie se Nasionale Forensiese Wetenskapslaboratorium (NFSL) het ʼn 11-jarige kind nege maande later verkrag en vermoor.

Dit is Vrydag onthul in ʼn uitspraak deur die KwaZulu-Natalse regter Mohini Moodley, waar die verkragter skuldig bevind is vir sy misdade. Hy is 20 jaar tronkstraf opgelê.

“Hierdie verskriklike misdaad kon verhoed gewees het as die SAPD behoorlik gefunksioneer het. Die DNS-agterstand beroof nie net slagoffers van geregtigheid nie, dit stel verkragters en moordenaars in staat om met hul vreeslike misdade voort te gaan,” sê Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society. “Die SAPD, onder leiding van Bheki Cele, word self oortreders van geslagsgebaseerde geweld en moord op vroue omdat hulle nie alles in hul vermoë doen om die DNS-agterstand op te los nie.”

Die burgerregteorganisasie poog om aktief die krisis rondom die DNS-agterstand te takel en het reeds ʼn klag by die openbare beskermer aanhangig gemaak teen, onder andere, die president en Cele vir hul rol om toe te laat dat die agterstand gebeur het en dat hulle nie vinnig genoeg daarop reageer nie.

“Die verdere trauma waaraan slagoffers onderwerp word in die hof, omdat hulle telkens voor hul oortreders moet verskyn, met sake wat voortdurend uitgestel en uiteindelik uitgegooi word, is ʼn absolute regsdwaling. Dit wil voorkom of die SAPD nie die politieke wil of dringende behoefte het om seker te maak dat dié slagoffers die geregtigheid kry wat hulle verdien nie.”

Nog ʼn belangrike stuk wetgewing, wat geregtigheid in dié sake verhoed, is die Strafregwysigingswetsontwerp (forensiese prosedures). Dit is die wetsontwerp wat met DNS-monsters verband hou van veroordeelde skedule 8-oortreders, insluitend verkragters en moordenaars.

“Dit is noodsaaklik om DNS-monsters te neem van veroordeelde skedule 8-oortreders in die stryd teen gewelddadige misdaad in ons land. Die wetsontwerp moes vandag deur die portefeuljekomitee van polisie goedgekeur word, sodat dit na die nasionale vergadering gestuur kan word, maar dit is weer tot volgende week uitgestel. Alhoewel die proses steeds geprioritiseer is, moet ons onthou dat gewelddadige misdadigers vrygelaat word sonder enige DNS-monsters wat hulle aan vorige of toekomstige misdade kan verbind. Byna 100 000 misdadigers is verlede jaar vrygelaat sonder dat hul DNS-monsters geneem is.”

Sodra die wetsontwerp goedgekeur is, sal dit bykomende druk op die NFSL plaas, maar volgens die SAPD sal hulle die invloei kan hanteer.

“Dit is hoogs onwaarskynlik dat die DNS-agterstand teen Augustus 2022 ingehaal sal wees – die sperdatum wat Cele onlangs aangekondig het. Verskeie stappe in die ‘omkeerstrategie’ wat die SAPD verlede jaar voorgehou het, is nog steeds nie in werking gestel nie. Daar is geen inligting oor die publieke-privaat vennootskappe met die twee laboratoriums in KwaZulu-Natal en Stellenbosch nie, wat eksklusief aan die DNS-agterstand sou begin werk het in Oktober 2021.”

Volgens die jongste terugvoer van die president tydens sy staatsrede, is die DNS-agterstand met 138 000 sake verminder. “Dit is ʼn tree in die regte rigting, maar dit is nog steeds nie enige aanduiding van die totale getal sake wat nog agterstallig is nie en die getal sake in die DNS-agterstand is ook steeds onbekend.”

Ondanks ʼn formele versoek om terugvoer van die SAPD oor die presiese getal sake en tydsraamwerk, het Action Society nog nie enige antwoorde gekry nie. “Ons het ook ʼn versoek aan die Nasionale Vervolgingsgesag gestuur om navraag te doen oor die negatiewe impak wat die DNS-agterstand op die vervolging van dié sake het. Die huidige suksesvolle vervolgingskoers in verkragtingsake is 8%. In ʼn land waar byna 150 verkragtings elke dag aangemeld word, is die piepklein vervolgingskoers ʼn menseregte-oortreding,” sê Cameron.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Niel ·

Ag asseblief! Jy sou hom in elkgeval vry borg gegee het sodat hy dit kon gaan doen het

quartus ·

Die agterstand in die laboratoriums kom eintlik neer op dwarsboming van die gereg

Christine ·

Hierdie goed maak mens moedeloos. Hoe kan mens toegelaat het dat onkundiges die land netso oorneem, sonder die nodige opleiding? Na 28 jaar gaan dit net slegter en steeds is die onkundiges wat nou intussen korrup geraak het ook, steeds in die poste en aan bewind. Hoe erg moet dit nog raak voor die skip rigting gaan kry en die land en sy goeie mense gered gaan word? Jong en onskuldiges ly hieronder!

Swerwer ·

Net weereens ‘n bewys, dat waar die ANC in beheer is. alles ‘n volslae mislukking is.

Ansie ·

DNA-monsters moet van ALLE misdadigers geneem word. Inbreker van vandag kan môre se moordenaar word.

Waarnemer ·

Bring die doodstraf vir 1ste byla oortredings terug en ons land sal weer op koers wees…..

Marcello ·

Hulle is so agter dat ‘n vriendin van my se dogter wat dood aangetref is, die staat het ‘n nadoodse ondersoek gedoen, maar kon nie vir haar Ma die uitslag gee nie, hul antwoord was hulle kan die eers oor 5 jaar bekend maak.

Genis ·

Dagvaar die nar wat dink hy is n Cowboy … SAPD is very pateties…

Erika ·

Hoekom moes n Kind se lewe eers vernietig word voor “Eventually” Opgetree word…-Dit is wat gebeur as onbevoegde Idiote in beheer is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.