11-jarige verloor arm: ‘Sy is ʼn klein vegtertjie’

Clarissa van Staden voor die ongeluk (Foto: Verskaf)

’n 11-jarige meisie wat net meer as twee weke gelede haar linkerarm in ’n motorbootongeluk verloor het, sal van voor af moet leer skryf.

Clarissa van Staden van Hartbeespoort in Noordwes was op Sondag 15 Februarie saam met haar ouers, 4-jarige broer en ’n maat op ʼn motorboot op die Hartbeespoortdam toe die boot vermoedelik ’n groot boomstomp, wat onder die water was, getref het.

Almal behalwe Clarissa se boetie is weens die slag van die boot af geslinger. Slegs Clarissa is in die ongeluk beseer.

Die boot se skroef het klaarblyklik Clarissa se linkerarm in die water getref en die arm net onder die skouer afgeruk.

Volgens Clarissa se pa, Johan van Staden, moet sy geliefde dogter nou van voor af onder meer leer skryf sonder haar skryfarm.

Clarissa van Staden tydens rehabilitasie (Foto: Verskaf)

Van Staden vertel Clarissa moes net na die ongeluk ’n bloedoortapping kry. Sy het ook ’n operasie ondergaan waartydens haar arm se senuwees en bloedvate geheg moes word. Die dokters moes ook streng infeksiebeheer toepas en die wonde ten alle tye skoonhou.

Ná ’n week in die intensiewesorgeenheid is Clarissa na ’n algemene saal oorgeplaas. Sy is verlede week na ’n rehabilitasiesentrum in Johannesburg oorgeplaas. Hier moet sy nou leer om daaraan gewoond te raak om basiese take met net een arm te verrig.

Van Staden het kort voor die ongeluk vir Clarissa ’n kitaar gekoop wat sy al goed kon speel. “Sy het elke week uitgesien na haar kitaarles. Haar kitaaronderwyser oefen nou om met een arm kitaar te speel sodat hy vir Clarissa met een arm op die kitaar touwys kan maak,” vertel hy.

Clarissa sterk fisiek goed aan, maar Van Staden glo dat dit emosioneel maar moeilik met sy dogter gaan. “Ek dink sy is bang om terug te gaan skool toe en al haar maatjies weer in die oë te kyk.”

Clarissa en haar ma René (Foto: Verskaf)

Van Staden en sy vrou, René, doen alles in hul vermoë om Clarissa emosioneel te ondersteun. Hulle moet talle veranderinge in hul huis aanbring om dinge vir Clarissa te vergemaklik wanneer sy weer tuis is. Hulle kry ook opleiding om hulself toe te rus om Clarissa te kan versorg.

Van Staden sê hoewel Clarissa getraumatiseerd is deur die ongeluk, laat sy haar nie onderkry nie. “Sy is ’n dapper, klein vegtertjie. Sy is steeds die sonskynkind wat sy voor die ongeluk was. In die intensiewe sorgeenheid het sy die pasiënte rondom haar met haar joviale persoonlikheid opgekikker,” vertel hy.

Van Staden vertel Clarissa se vriende en onderwysers by Laerskool Generaal Hendrik Schoeman is baie ondersteunend in dié moeilike tyd. “Haar maatjies stuur vir haar briefies, lekkers en teddiebere.”

Van Staden sê Clarissa se dryfkrag is om te weet dat sy weer eendag ’n nuwe arm gaan hê. Die familie het ’n fondsinsamelingsinisiatief van stapel gestuur om geld in te samel om vir Clarissa ’n prostetiese arm te kan kry. Van Staden sê ’n prostese kos tussen R500 000 en R1 miljoen.

Besoek Clarissa se Facebook-blad vir meer inligting oor die fondsinsameling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wilhelmina Cecilia ·

Baie sterkte vir die pad vorentoe Clarissa en jou familie.

Lizzy8 ·

In die jaar 1991, het ek dieselfde tipe ongeluk gesien. ‘n Jong seun het van ‘n boot afgeval Nadat die boot ‘n sandbank getref het, hy het voor die boot in geval, hul het oor hom gery. Die propeller het sy boude gesny, en been gebreek. Wonder wat het van hom geword?

isabelle ·

sjoe klink baie erg N ONGELUK is soos n oogknip n mens moet maar gereeld God se genade oor ons bid

isabelle ·

kan sommer sien dis n brawe kind en haar glimlag word nie deur die leeu wereld verwyder nie STERKTE meisiekind en mag daar nou net mooi dinge op jou lewenspad kom

Sêmanet ·

Ek kan nie verstaan hoekom prostese so uitermate duur moet wees nie. Maak liewer onnodige luukshede so duur. Een prostese gaan in elk geval nie genoeg wees nie. Sy groei, en dan moet die arm weer vervang word. Kan die mense wat die prosteses nie maar met bietjie minder geldtjies tevrede wees nie. Vir iemand wat deurgegaan het wat sy deur is, lyk sy fantasties. Sterke vir haar vorentoe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.