11-jarige wat arm verloor het sterk tuis aan

Clarissa van Staden voor die ongeluk (Foto: Verskaf)

Clarissa van Staden, die 11-jarige meisie wat in Februarie haar linkerarm in ’n motorbootongeluk op die Hartbeespoortdam verloor het, is verlede Woensdag uit ʼn rehabilitasiesentrum in Johannesburg ontslaan. Dié klein vegtertjie sterk tans tuis aan.

Johan van Staden, Clarissa se pa, sê hy het gemoedsrus om te weet dat hul dogter tydens die landswye afsondering by hulle kan wees.

“Sy sou eers later uit die rehabilitasiesentrum ontslaan word, maar ons wou haar nie ten tyde van afsondering daar alleen laat nie. Ons het haar toe verlede Woensdag verras en gaan haal. Haar gesig het sommer opgehelder toe sy hoor sy kan huis toe gaan,” vertel Van Staden.

Maroela Media het vroeër berig Clarissa was op 15 Februarie saam met haar ouers, vierjarige broer en ’n maat op ʼn motorboot op die Hartbeespoortdam toe die boot vermoedelik ’n groot boomstomp onder die water getref het. Die boot se skroef het Clarissa se linkerarm in die water getref en die arm net onder die skouer afgeruk. Sy moes ’n operasie ondergaan waartydens haar arm se senuwees en bloedvate geheg moes word.

Van Staden sê Clarissa gaan weer ná die afsonderingstydperk terug na die rehabilitasiesentrum vir drie weke. Dáár gaan die laaste mates van haar arm geneem word om haar prostetiese arm te begin maak.

Intussen help Clarissa se ma, René, haar met arbeids- en fisioterapie by die huis.

Clarissa van Staden tydens rehabilitasie (Foto: Verskaf)

“Sy het so ʼn positiewe ingesteldheid ten spyte van alles. Sy soek die silwer randjie in alles. Sy sien elke oggend uit na haar terapiesessie,” vertel Van Staden.

Clarissa het self aan Maroela Media vertel dat sy so dankbaar is om by die huis en by haar ouers en jonger boetie te kan wees.

Clarissa het in die rehabilitasiesentrum van voor af geleer skryf sonder haar skryfarm. “Ek kan nou weer briewe skryf, maar net met die ander hand,” vertel sy.

Sy moes ook daaraan gewoond raak om basiese take met net een arm te verrig. Haar ouers het talle veranderinge in hul huis aanbring om dinge vir Clarissa te vergemaklik. Hulle het ook opleiding gekry om hulself toe te rus om Clarissa te kan versorg.

Terwyl Clarissa in die rehabilitasiesentrum in Johannesburg aangestrek het, het die gesin ’n fondsinsamelingsinisiatief van stapel gestuur om geld in te samel om vir Clarissa ’n prostetiese arm te kan kry. Besoek Clarissa se Facebook-blad vir meer inligting oor die fondsinsameling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Amatambo ·

Pragtige kind, sterkte en seënwense vorentoe aan jou en jou ouers! Jy is ‘n voorbeeld vir so baie ander wat gedurig kla…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.