11 skote ná wag laatkommer aanmeld

(Argieffoto)

Die hooggeregshof het ʼn werker by die King Shaka-lughawe in Durban lewenslank tronk toe gestuur,  nadat hy ʼn kollega etlike kere geskiet het.

Sphelele Mdletshe en sy slagoffer, Zandile Conrnelia Mkhize, was albei veiligheidswagte vir ʼn maatskappy by die lughawe. Mdletshe het in Maart 2018 laat vir sy skof opgedaag nadat hy ʼn blaaskans geneem het en Mkhize het hom by hul toesighouer aangemeld, het Natasha Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in KwaZulu-Natal, gesê.

Mdletshe het na sy pos teruggekeer, maar is gevra om huis toe te gaan en die volgende dag terug te kom sodat die kwessie bespreek kan word. “Dit het hom kwaad gemaak. Hy is huis toe, het sy persoonlike vuurwapen gaan haal en is terug werk toe,” het Kara gesê.

“Wel wetende dat Mkhize haar skof klaargemaak het, het hy na die plek gegaan waar sy vir vervoer gewag het en haar verskeie kere geskiet.

“Mdlethse het 14 skote afgevuur – hy het die magasyn leeggemaak – en 11 van die skote het haar getref,” het Kara gesê.

Hy het daarna na ʼn polisiekantoor gestap en sy vuurwapen oorhandig.

In die hof het Mdletshe ontken dat hy dit gedoen het en aangevoer die polisie het hom voorgekeer en die wapen by hom afgeneem.

Staatsadvokaat Khatija Essack het beeldmateriaal aan die hof gewys van die gebied waar Mkhize geskiet is. “Dit wys Mdletshe duidelik as die skieter uit.”

Ballistiese getuienis is ook ingedien, wat wys hoe sy vuurwapen met die moord verbind word.

ʼn Verklaring van Mkhize se seun is as deel van getuienis ter strafverswaring by die hof ingedien.

“In sy verklaring sê die 23-jarige man dat sy ma se dood traumaties vir hom en sy sewejarige suster was. Hul ma was ʼn enkelouer en die gesin se broodwinner. Hy het gesê dat sy droom om te werk en sy ma te versorg, nou nooit vervul sou word nie.”

Die direkteur van openbare vervolging in KwaZulu-Natal, adv. Elaine Zungu, het Mdletshe se skuldigbevinding en vonnis verwelkom.

“Die beskuldigde se optrede was sinneloos en ongevraagd. Baie geluk aan die aanklaer wat sy skuldigbevinding help verseker het,” het Zungu gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Niklaas

Koelbloedig en beplan. Dit gebeur net in lande waar daar nie juis swaar strawwe vir ernstige misdade bestaan nie.

Belinda

Ek is bly daar is nou nie weer allerhande verskonings vir sy rede tot so wrede stap nie en dit is absoluut overkill en dit oor hy laat was!

Stofbakkies

So jammer vir ‘n onskuldige wat haar lewe verloor het en vir die kinders wat agtergelaat is, baie bly dat die moordenaar lewenslange tronkstraf gekry het, wens net alle moordenaars wil oor dieselfde kam geskeer word.

Santjie

Hy is nie eintlik slim nie ne? Dit sou beter “af gegaan” het as hy saamgestem het dat hy homself oorgegee het, of nie? Hy’t nou wel moord gepleeg. maar darem was hy eerlik. :)

Sarel

Lewenslank ….maw effektief seker so 10 na 15 jr. Die prys vir die vermoetiging van ‘n mens se lewe. In SA is die kosbaarste besitting wat mens het , jou lewe ,niks werd nie.