11 vas oor betogings in Ventersdorp

Betogings in Ventersdorp (Oktober 2018) Foto: ANA

Minstens 11 persone is in hegtenis geneem in verband met gewelddadige betogings Woensdag in Ventersdorp, Noordwes.

Kapt. Sam Tselanyane, woordvoerder van die polisie, het gesê die persone sal waarskynlik aangekla word van openbare geweld wanneer hulle in die Ventersdorp-landdroshof verskyn.

Ventersdorp het Woensdag tot stilstand gekom toe inwoners hul betogings voortgesit het.

Sello Dassie, leier van die gemeenskap, het gesê die betoging sal voortduur totdat die regering gestand doen aan sy belofte in 2006 van die N14-ontwikkelingsprojek. Die N14-projek sluit onder andere ʼn winkelsentrum, meenthuise, toerisme- en landboutrekpleisters in. “Ons sal nie rus totdat die N14-projek op die been gebring is nie,” het hy gesê.

Ondernemings in die dorp moes hul deure sluit terwyl diegene wat nog in Tshing oop was, nie basiese goedere soos brood of lugtyd beskikbaar gehad het nie. Een van die winkeliers het aan klante gesê hy het nie meer voorraad nie. Nog voor hulle kon sê wat hulle graag wou koop, het hy gesê hy het nie enigiets nie.

Foto: ANA

Een van die inwoners, wat anoniem wou bly, het gesê hulle kon al sedert Maandag, toe die betogings begin het, nie meer kos koop nie. “Ons het nie meer kos nie. Ons kan nie kosmaak nie, want ons het nie kos nie. Die winkels se voorraad het binne drie dae opgeraak.”

By die enigste winkel in die dorp wat oop is, kos ʼn 440 ml-koeldrank R18.

Die polisie monitor die situasie en het gesê dit was teen Woensdagaand kalm.

Maroela Media het vroeër berig daar was botsings tussen die polisie en betogers Woensdagmiddag in Tshing naby Toevlug. Inwoners het die polisiebeamptes met klippe bestook en die polisiebeamptes moes van traangas en rubberkoeëls gebruik maak om die skare uitmekaar te dryf.

Betogers beskuldig die polisie daarvan dat hulle agternagesit word selfs wanneer hulle van die groot paaie wegbeweeg het. “[Die polisie] het op ons geskiet toe ons op die sportgronde was. Hulle het ons aangeval. Hulle het oorlog verklaar,” het een van die betogers gesê. Hy het bygevoeg een van die polisiebeamptes het gebloei nadat ʼn klip hom getref het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

marous ·

Hierdie mense het gegil hiervoor en nou gaan hulle dit kry .

AW ·

It is a general fact that, no matter how many times people are arrested for “public violence”, That there are very few convictions.

This due to verious reasons.

Then whether, there was a trail or Not or a conviction or Not….

The civil claims against the police for Wrongful Arrest and Detention and or Prosecution will be instituted!!!

Proof me Wrong
Proof me Right

That is a reality within South Africa.

Gertryda ·

Gaan my verstand te bowe dat honderde afbreek en brand en net n paar word gevang

Al ·

Wat van strenger wetgewing?
Anargiste kan nie net afbreek, plunder en aan brand steek en slegs n ligte vonnis kry nie.
En die slagoffers moet vir die gelag betaal nie.

Elizabeth ·

Kom die beleg van ‘n stad nie neer op ‘n oorlogsdaad nie? Dit is BLATANTE en UITTARTENDE skending van menseregte. Die armes (95% van die dorp) kan nie kos koop nie, want winkeliers word met die dood gedreig as hulle oopmaak. Paaie na die dorp is dae lank versper. Wanneer gaan die staat sy mense eendag begin beskerm teen kriminele, militante rowerbendes? Elke dag het hulle ‘n ander “rede” waarom hulle plunder. Hulle plunder omdat hulle KAN en TOEGELAAT WORD en AANGEHITS WORD deur hulle leiers.

Stuiwer ·

In hegtenis geneem en dan maar net weer vrygelaat om weer dieselfde te doen. Hulle praat van meenthuise by die voorgestelde ontwikkeling. Wie gaan in hierdie huise bly? Hopelik nie hierdie oproeriges nie. Indien dit hulle is, sal daar op die einde niks van hierdie ontwikkeling oorbly nie.

JR ·

Dit is elke nou en dan! Ons is al raadop! Skole is gesluit, Ons moet ons karre wegsteek ( Die van ons wat werk toe gaan). Dit is soos ‘n spookdorp. En dan vlieg die polisie hier verby. Manne op bakkies met fluitjies. Dit voel soos ‘n oorlog geteisterde land. Soos iets uit ‘n fliek . Lord of War.

Karolis ·

Wonder wat gaan gebeur indien die sakelui onttrek uit die dorp.

DeVill ·

Het hierdie mense nie werk nie.

Het hulle nie werk rondom hulle huise nie?

Het hulle nie iets beter om te doen as om net af te breek nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.