11 vas vir Khayelitsha-skietery

Argieffoto van Khayelitsha ter illustrasie. (Foto: ANA)

Altesame 11 mense is Maandag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem in verband met Saterdag se vlaag skietvoorvalle in Khayelitsha in die Wes-Kaap.

Die dodetal het intussen van 11 na 13 gestyg nadat nóg twee skietslagoffers in die hospitaal aan hul beserings beswyk het.

Brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder, het Maandagoggend gesê die owerhede het omstreeks 03:00 op ’n hotel in Seepunt, Kaapstad, toegeslaan en die verdagtes in hegtenis geneem in verband met die naweek se skietvoorvalle.

Hulle word tans ondervra met die doel om hulle later formeel aan te kla. Die verdagtes sal na verwagting teregstaan op aanklagte van moord en poging tot moord.

Meer aanklagte kan bygevoeg word namate die ondersoek vorder.

Die inhegtenisnemings volg nadat nege mense Saterdag op verskillende plekke in Khayelitsha doodgeskiet is. Vier ander slagoffers is later in hospitale dood. Nog vyf mense is ernstig gewond.

Maroela Media het vroeër vanoggend berig voorlopige inligting dui intussen daarop dat al die skietvoorvalle moontlik met mekaar verband hou.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het intussen die inhegtenisnemings verwelkom en die betrokke polisiebeamptes vir hul ondersoekwerk geloof.

“Die inhegtenisnemings toon dat ons misdaad kán klop. Die inhegtenisnemings toon dat ons misdaad sál klop!”

Die minister sal na verwagting later vandag die polisiestasie in Khayelitsha Site B besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.