11 wat glo 2,8 ton kabels buit reeds in hof

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Altesame 11 verdagtes het Maandag in die Queenstown-landdroshof in die Oos-Kaap verskyn nadat hulle glo tonne koperkabels by ʼn treinspoor gesteel het.

Meer as 2,8 ton kabels, met ʼn straatwaarde van R850 000, is na bewering gebuit.

Kapt. Yolisa Mgolodela, woordvoerder van die Valke, sê die verdagtes is Vrydag in hegtenis geneem nadat hulle by die Tylden-treinstasie betrap is.

“Lede van die Tylden-polisiestasie het om 07:30 onbekende mans op ʼn grondpad naby die spoorwegstasie in Tylden opgemerk. Hulle is deur die lede voorgekeer en kon nie ʼn bevredigende antwoord gee oor hul teenwoordigheid by die stasie nie,” sê Mgolodela.

“Ander polisiebeamptes is na die toneel ontbied en die verdagtes is na die polisiestasie geneem vir verdere ondervraging. Hulle is in daardie stadium nog nie in hegtenis geneem nie, maar dit het aan die lig gekom dat die verdagtes van Johannesburg af gekom het, vermoedelik om koperkabels te steel.”

Die verdagtes het die beamptes in die rigting van vragte en vragte koperkabels gewys wat hulle glo reeds geknip het. Hulle het selfs die twee boutsnyers wat gebruik is om die kabels te sny aan die polisie uitgewys.

Polisiebeamptes het in twee bakkies na die gebied gegaan waar die kabels gestoor was en daar is op meer as 2,8 ton koperkabels afgekom.

Al die verdagtes is in hegtenis geneem en het reeds Maandag in die hof verskyn.

Genl.maj. Mboiki Obed Ngwenya, provinsiale polisiekommissaris, het die beamptes geloof vir hul pogings om die kabels terug te vind en die verdagtes in hegtenis te neem.

“Die inmeng met noodsaaklike infrastruktuur het ʼn negatiewe uitwerking op die reeds onstabiele ekonomie van die land,” sê hy.

Volgens Ngwenya het hierdie soort misdaad ʼn norm in die gebied geraak wat streng optrede vereis.

Die Valke se ondersoek na die saak duur intussen voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JM ·

Sluit die afsetgebiede vir die kabels EN sluit die ontvangers van die kabels ook toe!!

Casper ·

Welgedaan julle,as almal net hulle werk so toegewyd wil doen sal ons weer trots wees op ons manne en vroue in blou maar ongelukkig sal die vrot appels altyd daar wees.

Kokerboom ·

Die jagveld is oop vir kabeldiewe gesien teen ‘ ‘n afwesige beleid en optrede deur ‘n wanfunksionele polisiemag.Die kabeldiefstalsage herhaal hom oor en oor en raak afgesaag. Solank geen aggressiewe beleid, soos genoem deur JM, teen skrootwerwe bestaan sal dit voortgaan. Dis terrorisme teen land!!TREE OP!!HOU OP PRAAT!

SjN ·

terrorisme, wie is die handelaar wat dit koop, tree teen hom ook op, solank daar n afset is sal die stelery nie stop nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.