11 wesies onder dié blinde uil se vlerk

Hedwig word deur van die arenduiltjies omring. (Foto: Owl Rescue Centre/Facebook)

ʼn Blinde uil wat al jare lank by ʼn reddingsentrum op Hartbeespoort, Noordwes, woon, het sowaar 11 uilkuikens wat onlangs wees gelaat is onder haar vlerk geneem.

Hedwig het die afgelope jaar alle kuikens help grootmaak, maar was byna onafskeidbaar van die 11 gevlekte arenduiltjies wat op haar voorstoep beland het.

“ʼn Paar weke gelede het ons ʼn redelike toestroming van uiltjies gehad en ons kon die meeste by ʼn aantal surrogaatmoeders plaas. Nadat elke uilpaartjie een of twee kleintjies gekry het om te versorg, het 11 van die kleinste wesies oorgebly,” het die sentrum gesê.

“Die volgende oggend het ons besluit om hulle in Hedwig se kamp te sit sodat hulle son kan kry en tyd saam met ʼn volwasse uil kan deurbring en nie te geheg aan die versorgers raak nie.”

Volgens die sentrum het Hedwig – wat volkome blind is – byna onmiddellik besef ʼn hele kleuterskool is by haar afgelaai en sy het hulle blitsig begin ondersoek. Versorgers het hulle vir die res van die dag gelos om met mekaar kennis te maak.

“Later die dag het die versorgers na die kamp gegaan om die uiltjies te voer en weer terug kliniek toe te neem, maar Hedwig het ander planne gehad.”

Die pleegma het besluit dat die wesies net daar sal bly en het geweier dat enigiemand hulle wegneem.

Die volgende drie weke het Hedwig self elke uiltjie gevoer en grootgemaak tot hulle gereed was om die nes te verlaat.

Die wesies is die afgelope naweek na ʼn veilige gebied geneem waar hulle vir sowat ses maande sal bly. Daarna sal hulle as volwasse uile ander gebiede gaan verken.

Die uilreddingsentrum neem jaarliks meer as 1 000 uile in, wat uit allerlei omstandighede gered word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Francois ·

Weereens ‘n bewys dat diere beter is as mense… (OK, baie mense)

Di ·

Definitief! Party kry kinders op strepe en laai hulle by hulle ouma af om groot te maak.

Casper ·

Dit wys maar net weereens dat ons by diere kan leer hoe om verdraagsaam te wees en na ander in nood uit te reik in plaas van om te moor en haatdraend te wees.

Micky ·

Dis so lekker om iets mooi te lees wat jou hart laat glimlag. Dankie vir die sentrum wat die blinde uil Hedwig so goed versorg. Moeder instink is sterk al is sy blind.

Diana ·

Wat ‘n blymoedige en opbeurende stukkie nuus. Welgedaan Hedwig.

annie ·

Kyk net daai ogies… soos mensekinders wat om ma k(l)oek…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.