Twaalf mense is laat Saterdagaand beseer in ʼn ongeluk tussen ʼn ligte afleweringsvoertuig en ʼn motor in Laudiumweg in Centurion.
Russel Meiring, ER24-woordvoerder, sê die afleweringsvoertuig het sowat 100 m van die ongelukstoneel tot stilstand gekom.
Die bestuurder van die afleweringsvoertuig was in ʼn ernstige toestand in die wrak vasgekeer. Hy is uit die wrak bevry en is op die toneel behandel.
Verskeie mense wat agter op dié voertuig se bak gery het, was ook in ʼn kritieke toestand. Volgens Meiring was daar drie kinders jonger as drie jaar onder die beseerdes wat in die motor gery het.
“Die beseerdes is op die toneel behandel voordat hulle na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer is,” het hy gesê.
ʼn Ondersoek na die ongeluk is van stapel gestuur.