12 dood in botsings buite Makhanda

Agt mense is Vrydag dood in ’n botsing op die N2 buite Makhanda in die Oos-Kaap, net ’n dag nadat vier mense op dieselfde pad dood is.

Volgens Unathi Binqose, woordvoerder van die provinsiale departement van vervoer, het Vrydag se botsing omstreeks 17:30 plaasgevind.

’n Opel Corsa met ses insittendes en ’n Toyota Quantum-afleweringsvoertuig met twee insittendes was in die botsing betrokke. Die twee mans, twee vroue en twee minderjariges wat in die Corsa gereis het sowel as een van die mans wat in die afleweringsvoertuig was, is op die toneel dood verklaar. Die ander manlike insittende van die afleweringsvoertuig is met sy aankoms by die Settlers-hospitaal dood verklaar.

Donderdag was ʼn VW Polo en ’n Toyota-bakkie in ’n botsing op die N2 tussen Makhanda en Peddie betrokke. Volgens Binqose is die twee vroue en ’n driejarige seuntjie wat in die Polo gereis het op die toneel dood.

Een van die ses insittendes van die bakkie is ook op die toneel dood. Die vyf ander is vir behandeling na ’n hospitaal geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.