12 in hof oor Bothaville-brandstigting

Argieffoto

Argieffoto

Twaalf mense het Maandag in die landdroshof in Bothaville in die Vrystaat verskyn op aanklag dat hulle agt huise in die plaaslike Kgotsong informele nedersetting afgebrand het.

“Die saak is tot Maandag uitgestel wanneer die beskuldigdes formeel aansoek kan doen om borgtog,” het kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hulle staan tereg op aanklag van openbare geweld, opsetlike saakbeskadiging, brandstigting en poging tot moord.”

Thakeng sê die verdagtes is in Bothaville in hegtenis geneem nadat vier lede van die Nala-munisipaliteit se huise afgebrand is. Nog twee huise en ʼn biblioteek is beskadig. Twee inwoners van Kgotsong se huise is ook afgebrand.

Sam Ndlovu (31), Koos Motsili (29), Jona Mabunda (28), Carlos Machava (31), Sello Malefane (42), Mokete Namola (41), Moses Xaba (30), David Schalkwyk (24), Serame Khumalo (24) en Motlalepule Chaana (18) het Maandag saam in die hof verskyn. Godfrey Tsoai (51) en Plaatjie Ndisisa (30) het afsonderlik verskyn.

Thakeng kon nie kommentaar lewer oor ʼn berig in die Sowetan dat die huise afgebrand is weens twis tussen lede van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) en die ANC nie. “Ons kan dit nie nou bevestig nie,” het hy gesê. “Ek wil nie baie sê nie, want die saak is in die hof.”

Kgotso Morapela, sameroeper van die EFF in die provinsie, het egter intussen gesê daar was al sedert September onrus in die gebied weens ʼn gebrek aan dienste. Hy het gesê ʼn junior beampte het reageer toe die EFF ʼn skrywe aan die burgemeester gerig het. “Die EFF is van bakboord na stuurboord gestuur oor die kwessie en word ondermyn,” het Morapela gesê.

Die party se verteenwoordiger het glo geëis om met die burgemeester te vergader, maar niks het gebeur nie. Hulle is daarna na die informele nedersetting om aan die inwoners te sê hulle is nie tevrede nie. “Hulle het begin sing en die situasie het buite beheer geraak.”

Die ANC en die burgemeester se kantoor was nie dadelik vir kommentaar beskikbaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.