12 jagluiperds van SA na Indië vervoer

(Foto: N.C Agriculture, Environmental Affairs, Rural Development and Land Reform/Facebook)

Die 12 jagluiperds wat Vrydag na Indië gestuur is, sal – soos tussen Suid-Afrika en Indië ooreengekom –  help om jagluiperds weer in dié Asiatiese land te vestig.

Sewe mannetjies en ses wyfies is Vrydag met ʼn vliegtuig van die Indiese lugmag van die OR Tambo-lughawe in Johannesburg na Indië gestuur.

Die katte sal by agt jagluiperds by die Kuno‑ nasionale park in Indië aansluit wat verlede jaar van Namibië in hierdie park hervestig is.

Volgens Albi Modise, woordvoerder van die departement van bosbou, visserye en die omgewing, is gesamentlike pogings aangewend om die beste moontlike jagluiperds vir die hervestigingspoging te kies.

Die program word gekoördineer deur die departement van omgewingsake, SANParke, die Cheetah Range Expansion Project en die Endangered Wildlife Trust (EWT) in Suid-Afrika saam met die National Tiger Conservation Authority (NTCA) en die Wildlife Institute of India (WII) in Indië.

“Al 12 jagluiperds is wild gebore en het grootgeword tussen mededingende roofdiere, onder meer leeus, luiperds, hiënas en wildehonde. Hulle word as roofdiervaardig beskou en moet gepas reageer wanneer hulle ’n nuwe roofdiergilde in Indië teëkom wat tiere, luiperds, wolwe, dholes, gestreepte hiënas en luiaardbere insluit,” verduidelik Modise.

Drie jagluiperds is beskikbaar gestel deur die Phinda-wildreservaat, drie deur die Tswalu Kalahari-reservaat, drie deur die Waterberg-biosfeer, twee deur die Kwandwe-wildreservaat en een deur die Mapesu-wildreservaat.

“Die hervestiging van die jagluiperds is in lyn met die Wêreldbewaringsunie (IUCN) se riglyne vir die hervestiging van wilde diere.”

Die regerings van Suid-Afrika en Indië het vroeër vanjaar ’n memorandum van verstandhouding onderteken oor samewerking oor die vestiging van jagluiperds in Indië. Die memorandum fasiliteer samewerking tussen die twee lande om ’n lewensvatbare en veilige jagluiperdbevolking in Indië te vestig.

Die jagluiperdbevolking is reeds sedert 1952 ’n uitgestorwe spesie in Indië en die regering beskou die herstel van jagluiperdbevolkings as lewensbelangrik vir bewaringsdoeleindes.

“Die memorandum fokus daarop om bewaring te bevorder, te verseker dat kundigheid gedeel en uitgeruil word, kapasiteit gebou word en om jagluiperdbewaring te bevorder. Dit sluit mens-wild‑konflikoplossing, die vang en verplasing van wild en gemeenskapsdeelname aan bewaring in die twee lande in.

“Die oorgrensvestiging van spesies het ’n algemene praktyk geword om spesies te bewaar en ekostelsels te herstel. Suid-Afrika speel ’n aktiewe rol in die verskaffing van stigters vir die bevolking en verspreidingsuitbreiding van spesies soos jagluiperds.”

Volgens die ooreenkoms sal daar in die volgende agt tot 10 jaar jaarliks twaalf jagluiperds na Indië uitgevoer word.

Die departement van visserye, bosbou en die omgewing het die uitvoer van tot 29 wilde jagluiperds per jaar goedgekeur om bewaringspogings vir die spesie buite die land te ondersteun.

Die jagluiperd is die wêreld se vinnigste soogdier en is endemies in die savanne-gebied van Afrika.

Die kat word as kwesbaar beskou ingevolge die konvensie oor handel in bedreigde spesies (Cites). Wêreldwyd het die jagluiperdbevolking afgeneem van ’n geskatte 15 000 jagluiperds in 1975 tot ’n huidige wêreldbevolking van minder as 7 000 jagluiperds.

“In Suid-Afrika het die oorgang na demokrasie wesenlike implikasies vir wilde jagluiperdbewaring gehad. Die Wet op Wilddiefstal (Wet 105 van 1991)) was verantwoordelik vir ’n groot verandering in grondgebruik van landbou na ekotoerisme. Sedert 1994 is jagluiperds weer ingebring in 63 nuutgestigte wildreservate wat tans ’n gekombineerde bevolking van 460 jagluiperds onderhou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

gatgogga ·

As ons lankal renosters na enige beskaafde land uitgevoer het, sou dit baie beter gevolge vir die diere gehad het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.