12-jarige gereed vir skooljaar ná kankerstryd

Hendrik Stopforth (Foto: Verskaf)

’n 12-jarige seun van Lydenburg, Mpumalanga, is opgewonde om vandeesweek saam met sy maats met graad 6 te begin – verblydende nuus vir hierdie gesin aangesien hy ’n bitter stryd teen kanker moes wen om dié mylpaal te bereik.

Ondanks die donker dieptes wat Hendrik Stopforth eens op ’n tyd moes deurgaan, is dié vrolike seun vandag blakend gesond.

Maroela Media het in 2016 berig oor Hendrik wat die jaar vantevore met bloedkanker gediagnoseer is. Destyds was Hendrik in en uit die hospitaal en moes hy chemoterapie ontvang, maar vandag is dit ’n heel ander prentjie, vertel Izel Stopforth, Hendrik se ma. “Dit gaan baie goed met hom. Hy is 100% en aan die gang.”

Stopforth vertel dat Hendrik voor sy diagnose gereeld moeg en siek gevoel het. Dokters het egter nie onmiddellik onraad gemerk nie. Dit was eers toe Hendrik, toe agt jaar oud, aanhoudend om geen verklaarbare rede kneusplekke gekry het dat sy ouers besef het iets groots moet fout wees.

Hendrik is met bloedkanker gediagnoseer en moes gevolglik chemoterapie ontvang. In September daardie jaar het dinge begin beter lyk toe sy ouers hoor dat sy kankertelling laag is en dat sy kanker moontlik heeltemal sal weggaan aangesien chemoterapie steeds vir ’n ruk werk nadat ’n pasiënt dit ontvang het. “Die kanse het goed gelyk,” sê Stopforth.

Hendrik Stopforth destyds in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Dié verligting was egter van korte duur. Hendrik het  sowat ses maande later in Maart 2016 weer kneusplekke begin kry en bloedkanker is vir die tweede keer by hom gediagnoseer.

Stopforth bly eers stil om te dink voordat sy verder vertel. “Ek kan eintlik niks meer van daardie tyd onthou nie,” sê sy met ’n laggie.

Sy sê dat Hendrik gedurende hierdie tyd ’n bloedoortapping moes ontvang waarna hy ’n uitslag opgedoen het. Hendrik het aan die uitslag gekrap en om sake te vererger, sodoende ’n kiem opgedoen wat in sy been gegaan het. Hy is gevolglik in die waakeenheid van die hospitaal opgeneem en die moontlikheid het bestaan dat hul toe negejarige seun se been geamputeer moes word.

Dokters kon genadiglik daarin slaag om sy been te red waarna Hendrik ook veloorplantings moes ontvang.

Dit was uiteindelik ’n beenmurgoorplanting wat Hendrik se lewe gered het. Die skenker? Sy jonger sussie.

Vandag sowat drie jaar later is Hendrik se ooreenstemmende bloedgroep met sy sussie die enigste herinnering aan dié verskriklike tyd in sy gesin se lewe. “Die ontvanger het dieselfde bloedgroep as die skenker ná só ’n prosedure,” verduidelik Stopforth.

Hendrik Stopforth en sy sussie. (Foto: Verskaf)

“Dít het hom gesond gemaak. Ons was maar bang aangesien die twee jaar ná die oorplanting as ’n gevaarperiode beskou word.” Die Stopforth-gesin is egter lankal verby dié merk.

“Dis nou baie lekker en rustig,” sê Stopforth.

Die gesin het sedertdien vanaf Brits in Noordwes na Lydenburg verhuis waar hulle deesdae buite die dorp woon. Afgesien van die roetineondersoeke wat Hendrik elke twee jaar moet ondergaan, is hy vandag ’n doodgewone kind wat die buitelewe en visvang geniet.

Hendrik neem wel die rol van die verantwoordelike ouboet aan, vertel sy ma. “Hy is baie oulik met goeie maniere. Hy is soos ’n volwassene. Dit is seker as gevolg van alles wat hy moes deurmaak,” sê sy.

Sy erken as ma is sy maar altyd bang dat die kanker moontlik sal terugkeer. “Maar ’n mens kan hulle nie altyd vashou nie. Ons behandel hom heeltemal normaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elna ·

Dis wonderlik om sulke goeie nuus te lees. Alle eer aan ons almagtige hemelse vader. Baie sterkte vir die ouers en die engel seuntjie in die toekoms. Moet nooit God se hand los nie. Ek wens julle alles van die beste en wat mooi is toe.

Manie ·

N baie gelukkig kindjie en geval. GOD is great. Nou moet julle net aanhou om die swun Vitamine B17 te gee. Want dit is die natuur ae chemio terapie. Gaan lees asb na oor B17. En nog baie baie belangrik, is datjou lighaam se PH te alle tye bo 7 (alkanies) moet wees. Want geen kanker swl in die werwld kan in Alkaniese omstandighede lewe nie. Bly ver weg van regined suiker. Want dit is kanker se kos. Gebruik heuning en vrugte vir suiker. Baie sterkte. Groete Manie.

Violet ·

My kleinseun is ook met bloedkanker gediagnoseer toe hy 11 jr was. Hy was ‘n jaar en 3 maande uit die skool en met God se genade 2018 matriek geskryf, en geslaag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.