12-jarige se moordenaars gevonnis

Nealon Redhouse en Deon Harmse tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Raahil Sain / ANA

Die twee mans wat skuldig bevind is aan die moord op die 12-jarige Aliya “Angel” Tee is Donderdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth tot effektief 30 jaar tronkstraf elk gevonnis.

Nealon Redhouse (18) en Deon Harmse (24) is vroeër skuldig bevind aan die moord op die jong meisie en poging tot moord op haar ouers, Candice en Edmund Tee. Hulle is ook skuldig bevind op aanklagte wat verband hou met hulle wat hulself as polisiebeamptes voorgedoen het en huisbraak met die bedoeling om te moor.

Redhouse dien tans 18 jaar tronkstraf uit in verband met ʼn ander moord.

Regter Mandela Makaula het gesê Redhouse sal eers sy 18 jaar vonnis klaar uitdien voordat sy 30 jaar vonnis in verband met Angel se moord sal begin.

Redhouse het, soos hy dwarsdeur die verhoor gedoen het, arrogant voorgekom en geglimlag toe Makaula hom gevonnis het. Vroeër toe betoë ter verswaring en versagting van vonnis aangehoor is, en ʼn video van Angel in die hof gespeel is, het Redhouse gelag.

Angel was ʼn graad 7-leerder en prefek by die Strelitzia Primary School in Port Elizabeth toe sy in Junie 2016 doodgeskiet is. Twee mans wat hulle as polisiebeamptes voorgedoen het, het die agterdeur van die gesin se huis in Bethelsdorp oopgedwing.

Edmund Tee is geskiet terwyl hy probeer het om die aanvallers af te weer. Hy is verlam gelaat en is nou aan ʼn rolstoel gekluister.

Nadat die mans vir Edmund geskiet het, het hulle deur die huis gestap op soek na ander familielede. Angel en haar ma het in die badkamer geskuil waar die skieters hulle gevind het.

Angel het by die mans gesmeek om hulle nie te skiet nie waarna sy teregstellingswyse in haar kop geskiet is. Haar ma het die tragiese voorval oorleef en flou geval tydens die skietery. Sy het later haar bewussyn herwin en haar dogter se bebloede liggaam langs haar aangetref.

Aliya “Angel” Tee. Foto: Verskaf

Die gesin is ná die voorval deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in ʼn getuiebeskermingsprogram geplaas.

Candice is na die getuiebank geroep om ter verswaring van vonnis te getuig en het versoek dat ʼn video aan die hof gewys word van Angel wat dans by ʼn verjaarsdagpartytjie net maande voor haar moord. Almal in die hof was emosioneel toe die video begin speel en familielede het gesnik terwyl hulle gekyk het hoe die meisie haar dansroetine opvoer.

Candice het haar familie en die ondersoekspan bedank vir die voortgesette ondersteuning wat sy ontvang het. “Miskien is vandag die dag van geregtigheid vir my kind. Maar eers wil ek dankie sê aan die Vader wat ons gedra het tot vandag en ons van hier af verder sal dra,” het sy gesê.

Angel se broer, Zano, wat verlede jaar gematrikuleer is, het in die getuiebank sy jonger sussie as ʼn vreugdevolle persoon beskryf. Hy het gesê Angel was nie net sy suster nie, maar ook sy vriendin en dat hy nie sy ouers se pyn en verlies kan wegneem nie.

“Die enigste positiewe is dat ek in God glo en ek glo sy is nou in ʼn veiliger plek, ʼn baie beter plek as hierdie wrede wêreld,” het hy gesê. “Sedert daardie aand ly my ouers onder hierdie verlies. Ek kan sien hulle is in pyn, maar ek kan nie daardie pyn wegvat nie. Om dit te probeer wegvat, sal onmoontlik wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Theresa B ·

Net die doodstraf sal hier uitkoms gee. Nou gaan lê hulle in die tronk en belastingbetalers betaal hiervoor.

Wonder ·

Ek sou hulle ook die doodstraf gee, nie om die belastingbetaler geld te spaar nie, maar omdat hulle GEEN genade verdien nie !

PJC ·

Ja Theresa B op een of ander manier behoort sulke gevaarlike misdadigers permanent uit die samelewing verwyder te word. As die doodstraf nie meer aanvaarbaar is vir sommige (dom) mense nie behoort natuurlike lewenslank oorweeg te word.

broos ·

18 jaar oud en 2 moorde agter die rug? nee wat, doodstraf is al wat gaan help!

Cherokee ·

Ja, dit is onregverdig want oor dertig jaar sou sy sowat 44 jaar oud gewees het.

Calamarie ·

Free board and lodging en hulle het reg om te stem ook.

Sarel D ·

Lekka in die tronk. Slaap warm en kry kos en werk nie. Ander mense betaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.