12-jarige verdrink by Hermanus

Skermskoot uit 'n advertensie oor die Wortelgat-kampterrein in Hermanus (YouTube)

Skermskoot uit ‘n advertensie oor die Wortelgat-kampterrein in Hermanus (YouTube) http://youtu.be/oaWLd6HjRVE

ʼn 12-jarige seun het Saterdag by die Kleinrivier-strandmeer, tussen Stanford en Voëlklip, verdrink nadat ʼn kano omgeslaan het, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), gesê.

“Die seun was van ʼn groep van 36 kinders van Langa en Khayelitsha wat na die Wortelgat-kampterrein gebring is,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, in ʼn verklaring gesê. “ʼn Katolieke kerk het die kamp vir die welsynsjeuggroep gereël.”

Vier van die kampleiers het glo gaan middagete eet toe die kinders sonder toesig in die strandmeer gaan swem het. Drie van die groepleiers, wat glo na die kinders moes omsien terwyl die leiers gaan eet het, was glo in hul kamers toe die kinders gaan swem het.

“Die kampleiers het die kinders by die strandmeer aangetref en nadat hulle almal bymekaargemaak het, het hulle gehoor die 12-jarige het onder die water verdwyn toe sy kano omgeslaan het,” het Lambinon verduidelik. “Die owerhede is ontbied en die NSRI en polisie het ook aan die soektog deelgeneem.”

Daar is nog geen teken van die vermiste seun nie.

Die polisie ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.