12-jarige verdrink in Durban-rivier

Foto: Rusa

Die liggaam van ʼn 12-jarige seun wat in ʼn rivier by Verulam, noord van Durban verdwyn het, is gevind, het die polisie in KwaZulu-Natal Sondag gesê.

Kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn geregtelike doodsondersoek sal gedoen word.

Die privaat nooddienstemaatskappy Reaction Unit South Africa (Rusa) het vroeër gesê die liggaam van die kind, wat in Temple Valley verdrink het, is Sondag teen ʼn sandbank naby ʼn waterbehandelingsaanleg in Valley Viewrylaan gevind.

ʼn Inwoner in die gebied het Rusa Saterdagmiddag omstreeks 12:30 ontbied nadat ʼn kind by haar huis aangekom en beweer het sy vriend het in ʼn rivier tussen Temple Valley en Coniston verdrink.

“Beamptes het na die toneel gegaan en met die kind gesels, wat verduidelik het hulle was op pad om sokker by Verulam te gaan speel toe een van sy vriende in die moeilikheid beland het toe hy die rivier wou oorsteek,” het Rusa gesê.

“Beamptes het na die kind begin soek en die Suid-Afrikaanse Polisiediens se soek- en reddingspan het ook by die soektog aangesluit. Die soektog is Saterdag opgeskort weens stygende watervlakke en ʼn sterk stroom.

“Polisieduikers en lewensredders van die eThekwini-munisipaliteit het Sondagoggend die water met kano’s betree en die liggaam van die 12-jarige ongeveer 300 m van waar hy laas gesien is, gevind.”

Die 12-jarige was ʼn leerling aan die Verulam Primary School.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet ·

Tragies dat ons kinders moet ly onder die gebrek aan hetsy die onderhoud van infrastruktuur of bloot die gebrek daaraan!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.