12-jarige vereer ná sy sussie van verdrinking red

Netcare 911-personeel, Beth Laas met haar sertifikaat en haar jonger sussie. Foto: Verskaf

Netcare 911-personeel, Beth Laas met haar sertifikaat en haar jonger sussie. Foto: Verskaf

Die 12-jarige meisie wat vroeër in Februarie haar sesjarige sussie van verdrinking gered het in Richardsbaai, KwaZulu-Natal, is onlangs met die Netcare 911 Hero-toekenning vereer.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê Beth Laas verdien al die lof in die wêreld vir dié groot heldedaad wat sy op ʼn jong ouderdom verrig het. In die proses het Beth self by die dood omgedraai.

“Dit is altyd prysenswaardig wanneer iemand sy of haar eie lewe in gevaar stel om dié van ’n ander te red, maar wanneer ʼn 12-jarige dit doen, wys dit sy is ’n ware held,” het Botha gesê.

Die twee sussies was op ʼn sandbank naby Pelican-eiland en die twee wou weer terugkeer na die strand toe die sesjarige onder die water verdwyn het. Hul pa was saam met hulle in die see besig om branderplank te ry.

Beth het dadelik gereageer toe sy sien wat gebeur. “Sy het haar sussie die heeltyd na die oppervlak gedruk en net self opgekom wanneer sy moes asemhaal,” het Botha vroeër gesê.

Hul pa het gesien die twee sussies is in die moeilikheid en het homself dadelik na hulle gehaas. “Hy het die jongste sussie op die branderplank getrek, en toe hy die ouer sussie nadertrek, het hy gesien sy haal nie meer asem nie.”

Nadat paramedici die gesin op die stand te hulp gesnel het, het Beth begin hoes, water uitgespoeg en weer begin asemhaal.

Beth is in die hospitaal opgeneem en ná waarneming ontslaan. Sy is die hoofmeisie van Richardsbaai Laerskool.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johann ·

Baie dankie en baie geluk Beth. Sonder om aan jouself te dink, het jy ‘n lewe gered. Ons almal in die land is baie trots op jou. Sterkte met jou skoolloopbaan.

broos ·

well done pop! dis ‘n baie trotse toekenning. wys jou net….sussie liefde is baie sterker as enige see stroom

anna ·

jy is n ware heldin. pragtig pragtig!!!! jou ouers familie en vriende en natuurlik kleinsus kan baie baie trots op jou wees en ek is seker hulle is!!

Yvonne ·

Ek kan verstaan hoekom jy hoofmeisie is, want jy het bewys dat jy baie verantwoordelik is. Knap gedaan ! Ek is bly jy het niks oorgekom nie. Jou ouers en skool en sussie kan trots wees op jou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.