11 koeie op plaas geslag

Een van die karkasse (Foto: SAPD)

Die polisie in Limpopo is op die spoor van verdagtes nadat altesaam 11 geslagte koeie oor die naweek en Maandag op ʼn plaas buite Polokwane aangetref is.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het in ʼn verklaring gesê agt karkasse is Maandag in die vroeë oggendure op die plaas Palmietfontein aangetref. Dít nadat drie karkasse Saterdag op dieselfde plaas gevind is.

Volgens Mojapelo het die verdagtes Maandagoggend vermoedelik begin om die diere af te slag toe hulle moontlik versteur is. Die verdagtes het toe die karkasse en die toerusting wat hulle gebruik het om die diere te slag net so agtergelaat en op die vlug geslaan.

In Saterdag se voorval kon die verdagtes egter daarin slaag om die karkasse saam met hulle te neem en het net ʼn klein gedeelte van die karkasse op die toneel agtergebly, het Mojapelo verduidelik.

Volgens Mojapelo het die eienaar van die koeie die polisie die betrokke dag ontbied toe hy nie van sy kudde kon opspoor nie. Die polisie het kort daarna op die gruvonds van drie karkasse en enkele dae later op agt karkasse afgekom.

ʼn Saak van veediefstal is intussen by die polisie aanhangig gemaak.

Enigiemand met inligting rakende die voorval word versoek om kapt. Lucky Ramashala by 082 371 8117 of die Misdaad Stop-nommer by 0860010111 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kokerboom ·

Die hongerte gevolg van die virus gaan nog groot afmetings aanneem. Boere sal hul diere daagliks moet kontroleer

Pieter ·

12 koeie op een slag. Hulle is nie honger nie. Dit is ‘n besigheidsman wat die vleis gaan verkoop. Vieslik. So gaan ons meer betaal vir rooivleis, want die produsente raak minder. By my buurman is ‘n ruk terug 3 beeste geslag. Nou is al die beeste weg en wei daar blou wildebeeste wat draers van snotsiekte is. Nou is die hele onmiddelike omgewing ongeskik vir beesboerdery. Ekself het ook opgebou met beeste boer, deels jeens diefstal en deels dat min mense gesonde organiese vleis verkies.

JohanR ·

Hoeveel skade le nou in ‘n hoopie daar op die grond R120000, R240000. meer? En as jy die boer op hulle afgekom het terwyl hulle slag, en een of twee of vyf dood geskiet het dan is hy diep in die perde mis. Moet seker eers permissie vra…..”hei julle ouens wat daar my beeste slag, mag ek op julle skiet”? “Wil julle he ek moet die haelgeweer, of die .45 pistool gebruik”?

Scalla ·

Veediefstal neem geweldig toe, slag ook nie net vir die pot nie, dit moet geklassifiseer word onder sabotasie so ook kabeldiefstal, hoop daar word n voorbeeld van hul gemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.