12 sterf in onlangse vloede

Nwaswitshaka-brug (Foto: SANParks – Kruger National Park/Facebook)

Minstens 12 mense is dood in die oorstromings wat sedert die naweek die sentrale en noordoostelike dele van die land teister.

Twee van die sterftes is in Limpopo aangemeld waar ʼn 59-jarige man wat die Selati-rivier probeer oorsteek het, en ʼn gr. 11-leerder wat in die Mmaba-rivier geswem het, Maandag verdrink het. Die leerder het glo vir geloofsredes in die rivier gaan swem.

Dit is nie seker presies waar die ander verdrink het nie.

Basikopo Makamu, die LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake in Limpopo, het inwoners gewaarsku om weg te bly van oorstroomde riviere en damme.

“Diegene wat in [laagliggende] nedersettings of naby laagwaterbrûe woon moet ekstra versigtig wees en motoriste moet eerder nie in swaar reën of oor oorstroomde laagwaterbrûe ry nie,” sê Makamu.

Oorstromings is sedert die naweek in KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo en Gauteng aangemeld. Newcastle in KwaZulu-Natal en die Krugerwildtuin in Mpumlanga is tot dusver die swaarste deur dié vloedwaters getref.

Die oorstroomde krokodilbrug in die Krugerwildtuin (Foto: Jennifer Berkemeyer/SANParks – Kruger National Park/Facebook)

Die regering het Maandag ʼn nasionale ramptoestand verklaar om ʼn kragtige en gekoördineerde reaksie moontlik te maak om die uitwerking van die oorstromings te hanteer.

Rampbestuurspanne in genoemde provinsies staan ook vandeesweek nog slaggereed nadat wydverspreide reën tot die naweek nog in hierdie provinsies voorspel word. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het teen verdere moontlike oorstromings gewaarsku.

Die Krugerwildtuin se rampbestuurspanne is sedert die naweek op hoë gereedheidsbasis nadat nog reën Dinsdagoggend in die gebied uitgesak het.

Volgens Oscar Mthimkhulu, bestuurshoof van die Krugerwildtuin, vloei die Krokodil- en Sabierivier steeds sterk deur die wildtuin. Die Sabierivier naby die Paul Kruger-hek en die Msimuku-rivier naby die Delaporte-dam word noukeurig gemonitor omdat die watervloei heeltyd verander.

Alle teerpaaie in die wildtuin, uitsluitend die hoofpad tussen Skukuza en Onder-Sabie, is al oopgestel vir die publiek.

“Van die paaie kan weer vir ’n kort tydperk gesluit word indien rivierstrome weer styg en laagwaterbrûe oorspoel. Besoekers word aangeraai om ekstra versigtig te wees veral wanneer hulle oor die laagwaterbrûe ry,” sê Mthimkhulu.

Al die grondpaaie in die suidelike deel van die wildtuin en die Onder-Sabie-, Biyamithi-, Talamati-, Balule- en Krokodilbrugkamp is ook steeds vir die publiek gesluit. Gaste is die afgelope naweek uit dié kampe ontruim.

Intussen is die badkamers by die Tshokwane-piekniekarea ook buite werking.

Alle toegangshekke is wel nog oop vir die publiek behalwe die ingang by Krokodilbrug.

Vlugte na die Skukuza-lughawe word nog bedryf, maar passasiers word aangeraai om hul verblyf te kontak om inligting te kry voordat hulle reis.

Die lughawe vervoer tans passasiers na en van die lughawe via die Shelati-brug; en alle passasiers word by die Skukuza-dagbesoekersterrein op- en af gelaai. Dit is omdat die Sabie-laevlakbrug tans oorstroom is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.