12- tot 17-jariges kan nou registreer vir entstof

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Diegene tussen 12 en 17 jaar oud kan van Woensdag af registreer vir die Pfizer-entstof teen Covid-19.

Dit volg ná dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, verlede week aangekondig het dat alle kinders wat in die ouderdomsgroep van 12 tot 17 val nou vir die Pfizer-entstof in aanmerking kom. Die meeste tieners in dié ouderdomsgroep is in die hoërskool.

Volgens Foster Mohale, woordvoerder van die nasionale gesondheidsdepartement, sal die inenting van leerders voordelig wees omdat skole vir die jaareindeksamens voorberei.

Mohale sê weens die voorbereiding vir eksamens sal daar nie spesiale inentingsgeriewe by skole ingerig word nie.

“Ouers en voogde word aangemoedig om hul kinders by hul naaste inentingsentrum te registreer vir die entstof,” sê Mohale.

“Luidens die Kinderwet 3 (Wet 38 van 2005) kan kinders bo die ouderdom van 12 jaar instem om toestemming tot eie mediese behandeling te gee. Dit is mits die kinders oor die verstandelike vermoë en volwassenheid beskik om die voordele, risiko’s, asook sosiale en ander gevolge van die behandeling te verstaan.

“Ouers moet verkieslik oop gesprekke met hul kinders voer oor die voordele van die entstof sodat hulle ʼn ingeligte besluit daaroor kan neem.”

Die departement doen ʼn beroep op jong meisies in die ouderdomsgroep om hulle in enige stadium van swangerskap of borsvoeding te laat inent.

Volgens Mohale is die inenting van kinders en tieners vanaf die ouderdom van 12 jaar ʼn wêreldwye verskynsel waaroor ouers hulle nie te veel hoef te bekommer nie.

Die registrasie vir die ouderdomsgroep kan op die EVDS-stelsel gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.