12 vas vir hoëkaliberwapens, gesteelde voertuig

Die wapens waarop beslag gelê is (Foto: ANA)

Altesaam 12 mans van KwaGqikazi in KwaZulu-Natal is Dinsdag in hegtenis geneem nadat die polisie beslag gelê het op talle hoëkaliberwapens.

Genl.maj. Bheki Langa, waarnemende provinsiale kommissaris, het gesê die polisie het ná ʼn wenk van die gemeenskap op ʼn nedersetting in KwaGqikazi toegeslaan waar daar op 12 vuurwapens, waaronder ses AK47-gewere en meer as 120 patrone beslag gelê is.

Die polisie het ook op ʼn gesteelde voertuig beslag gelê. Volgens Langa is dié voertuig vermoedelik in Februarie vanjaar in Diepkloof in die suide van Johannesburg gesteel.

“Ons hoop die verdagtes kan gekoppel word met die onlangse vlaag van ernstige en gewelddadige misdade in die provinsie,” sê Langa. “Die vuurwapens sal vir ballistiese toetse gestuur word om vas te stel of die wapens in enige van hierdie misdade gebruik is.”

Langa het gesê misdaad kan slegs ʼn nekslag toegedien word indien die gemeenskap saam met die polisie werk. “Ons wil graag ons dank uitspreek teenoor die lede van die gemeenskap wat die wenk aan die plaaslike polisie oorgedra het. Dit is slegs deur gemeenskapsdeelname soos dié dat ons die oorlog teen misdaad kan wen.”

Die mans, almal tussen 23 en 46 jaar oud, verskyn binnekort in die Ulundi-landdroshof op aanklagte van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie asook besit van gesteelde goedere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

CAV ·

Bly SAPS kon hulle vang. Kan net dink hoeveel mense hulle van plan was om seer / dood te maak met al daai wapens

Johann ·

Gee vir die mense makliker wapenlesensies dan kan daar ‘n groter toesig oor wapenmidaad gehou word

john samuel ·

Geagte MM

Dit is “Ruger” gewere, en nie ‘Luger’ nie. Ruger M14’s. En hulle is nie automaties nie, hulle is “semi-automaties”.

Enigste “automatiese” gewere in Suid Afrika is afkomstig van die Polisie of die Weermag, Geen privaat persoon in SA mag n automatiese geweer besit en/of lisensieer nie. Dus word hulle Nie van SA burgers gesteel nie.

Janie Monsieur ·

Dagsê john samuel,
Dankie vir jou kommentaar. Jammer vir die oorsig, die berig is gewysig,

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Dries ·

Ek dink die regte terminologie sou seker wees om na aanvals gewere te verwys.

zahn ·

Nou val julle mekaar aan oor outomaties of semi outomaties, hoëkaliber of aanvalsgeweer. Tog so bly julle is so taalkundig. Pleks julle lees die berig. Lees die tweede laaste paragraaf, sien raak die bekentenis. Kom ek haal aan: Dit is SLEGS deur gemeenskapsdeelname…….. kan julle taalkuniges my reghelp hier, asb? Lees ek verkeerd as ek ‘n erkenning van die polise se totale onvermoeë om hul werk te kan doen, hier sien?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.