12 vas wat chaos buite hof veroorsaak

hof-hamer

Argieffoto.

Altesaam 12 mense is in Noordwes in hegtenis geneem nadat hulle hofverrigtinge buite die Ganyesa-landdroshof ontwrig het, ʼn waghuis en verskeie motors aan die brand gesteek het en toe ook die ontvangsarea van die hof verwoes het.

Lt.kol. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie, sê die groep het betoog buite die hof waar twee mans verhoor word vir die beweerde moord op twee mans van Noordwes asook vir poging tot moord op ʼn vrou.

Aanklagte van moord, poging tot moord, kaping en sake-roof, verkragting, ontvoering en die besit van onwettige vuurwapens staar die twee verdagtes in die gesig.

Volgens Funani was die twee verdagtes na bewering besig om ʼn groep vroue in ʼn plaaslike kroeg te beroof toe die twee mans wat intussen dood is verby die toneel gery en die gille van ʼn vrou gehoor het.

Die mans het teruggedraai om die vroue te help, waarna die verdagtes op hul motor losgebrand het. Volgens haar het die oorledenes teen ʼn heining gebots in die proses om van die skote af weg te kom, en albei is dood. Sy kon nie bevestig of die mans ook raakgeskiet is nie. Funani sê ʼn vrou wat ten tyde van die voorval in die motor was, is ernstig beseer.

Die verdagtes word verder ook daarvan beskuldig dat hulle een van die vroue ontvoer en verkrag het.

Die groep betogers het oor die naweek buitebande aan die brand gesteek en betoog teen die volgehoue geweld in die provinsie.

Die 12 verdagtes sal Maandag in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

julius ·

Hoe sê mens nou, ‘n geweldadigge betoging oor geweld? Wie is nou eintlik verkeerd?

snoefie ·

hoe kan jy geweld veroordeel as jy geweld pleeg om geweld gestuit te kry? wie gaan betaal vir die skade wat hulle aangerig het? wie gaan betaal vir die skade wat die brandende buitebande aan die padoppervlak veroorsaak het? ek veronderstel hulle het daardie buitebande oor die een of ander pad gesleep om te brand. wat van die persoon of besigheid wat hulle van bande voorsien het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.