13 in hof oor bedrog van R8,7 miljoen

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Dertien persone het Maandag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklag van bedrog, vervalsing, geldwassery en korrupsie.

Sewe persone is Vrydag in hegtenis geneem en die res is Maandag in die vroeë oggendure in hegtenis geneem deur die Valke se eenheid in Bloemfontein wat ernstige handelsmisdaad ondersoek.

Twee van die persone wat Vrydag in hegtenis geneem is, Motsumi Krisjan Polori (46) en Sarah Kenosi Legobate (44), is werknemers by die departement van gesondheid. John Tsietsi Polori (50), Thabo Moeti (39), Mavuso Victor Kwababa (49), Simon Njonga (40) en Lebohang Beqezi (37) is almal maatskappydirekteure.

Vyf van die persone wat Maandag in hegtenis geneem is, David Motau (54), Mietje Johns (61), Limakatso Catharine Mabitle (62), Hillary Colleen Kala (56) en John Motsemme Chakane (65) is almal staatsdienswerkers en Mmalefa Charity Moloi (39) is ʼn maatskappydirekteur.

“Die ouditspan van die ouditeur-generaal het tydens die gewone oudit in die departement van gesondheid inligting aangevra oor betalings aan diensverskaffers,” het kapt. Christopher Singo, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), gesê. “Die ouditspan het ook die aanskaffingsprosesse wat gevolg is, bevraagteken.”

ʼn Interne ondersoek is van stapel gestuur en dit het aan die lig gekom dat vervalste betalingsversoeke tussen Januarie 2011 en Desember 2015 ingedien is vir diensverskaffers. “Geen bewyse kon gevind word dat die dienste inderwaarheid gelewer is nie.”

Die departement het uiteindelik meer as R8 miljoen aan die “diensverskaffers” oorbetaal.

“ʼn Klag is by die polisie aanhangig gemaak en die saak is aan die Valke oorgegee waarna die beskuldigdes in hegtenis geneem is.”

die saak is tot 22 September uitgestel.

David Motau, Motsumi Krisjan Polori en John Tsietsi Polori is vrygelaat op borgtog van R5 000 elk. Die ander beskuldigdes is almal vrygelaat op borgtog van R2 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Flower Girl ·

Nee terwyl alles in hulle sakke gaan. Is hulle nie bekommerd oor hoe ons land agteruit gaan nie.So hartseer.Vat wat nie aan hulle behoort nie.

E ·

Dept van gesondeheid. Wonder hoeveel lewense hulle aksies gekos het.

Anna ·

Ek bevraagteken die “borg” Hoekom kry hulle borg op sulke ernstige beskuldigings?

Anoniem ·

Die dubbelstandaarde in ons land gaan nog ons ondergang wees. Borgtog moes in die eerste plek nie toegestaan word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.