13 in hospitaal ná gaslekkasie by gebou

Die gebou waar die lekkasie was. Foto: ER24

Die gebou waar die lekkasie was. Foto: ER24

Altesaam 13 mense is in die Groote Schuur- en New Somerset-hospitale opgeneem vir behandeling nadat ʼn skadelike gas glo Vrydag by ʼn gebou in Seepunt in Kaapstad gelek het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die gaslekkasie het by ʼn gebou op die hoek van Bay- en Frits Sonnenbergweg plaasgevind.

“Toe paramedici van ER24 en verskeie ander nooddienste by die gebou opgedaag het, het ʼn groot groep mense buite die gebou saamgedrom. Van die mense het gesukkel om asem te haal,” het Meiring gesê.

ʼn Veilige gebied is ingerig om die mense op die toneel te behandel. Meiring het gesê 43 mense het behandeling ondergaan terwyl ʼn span van die stad se eenheid vir gevaarlike stowwe in die gebou ondersoek ingestel het. “Daar word verneem dat ʼn houer wat vermoedelik chloor bevat het, gelek en die gas veroorsaak het.”

Hy het gesê 13 van die 43 mense moes in ʼn hospitaal opgeneem word. Hulle is met ambulanse na die hospitale geneem.

Beamptes is op die toneel om verder ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.