13-jarige glo gedwing om met man (61) te trou

Argieffoto

Die verhoor van drie beskuldigdes wat verband hou met ʼn 13-jarige meisie wat na bewering ʼn slagoffer van mensehandel geword het en gedwing is om met ʼn man in sy sestigs te trou, begin vandag (Maandag) in die hooggeregshof in Port Elizabeth.

Die verhoor was veronderstel om al vroeër te begin, maar moes uitgestel word nadat dit aan die lig gekom het dat een van die beskuldigdes aparte regsverteenwoordiging sou nodig hê.

Die oom van die meisie staan saam met twee ander mense tereg op ʼn reeks aanklagte insluitend mensehandel en die sluiting van ʼn gedwonge huwelik vir die doeleindes van uitbuiting. Die meisie se 61-jarige “eggenoot” staan tereg op twee bykomende aanklagte van verkragting.

Die drie beskuldigdes het nog nie op die aanklagte teen hulle gepleit nie.

Luidens die klagstaat is die meisie, wat volgens wet nie geïdentifiseer mag word nie, gedwing om met die ouer man, ʼn kennis van haar oom, te trou. Die oom se naam kan ook nie bekendgemaak word nie om die identiteit van die meisie te beskerm.

Ná die dood van haar ma toe die kind nege jaar oud was, het sy in 2012 by haar oom in KwaDukuza, KwaZulu-Natal, gaan woon. In Desember 2014 is die meisie saam met die dogter van die derde beskuldigde, ʼn 63-jarige vrou, om dié se ma te besoek.

Sedert Januarie 2015 het die meisie saam met die 63-jarige vrou se dogter in Bizana in ʼn plattelandse gebied in die Oos-Kaap gaan bly waar sy skoolgegaan het.

Volgens die klagstaat het ʼn 61-jarige man van Port Elizabeth daarna ʼn lobola-ooreenkoms met die meisie se oom aangegaan en in November 2016 is die slagoffer, teen daardie tyd toe 13 jaar oud, gedwing om skool te verlaat en met die ouer man te trou. Die 63-jarige vrou het na bewering die meisie op ʼn taxi gesit Port Elizabeth toe.

Volgens die staat het die 61-jarige man haar op Njoli-plein ingewag en haar na sy huis in Greenbushes geneem waar hy haar glo gewurg en verkrag het. In Januarie 2017 het die man sy stiefdogter glo opdrag gegee om die slagoffer terug te neem na Bizana waar sy in haar “nuwe man” se huis gewoon het en moes werk as die 63-jarige vrou se skoondogter.

In April 2017 is die meisie na bewering teruggeneem Port Elizabeth toe waar die man haar glo weer verkrag het.

Al drie beskuldigdes is tans uit op borgtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Johan ·

Dis ongelooflik dat daar in vandag se tyd nog sulke dinge kan gebeur…

Jannie ·

Wat ‘n SIMPEL regsreël – die misdadiger se identiteit word geheim gehou om kamma die slagoffer se identiteit te beskerm! Hoe gerieflik vir die boosdoener!!!
Intussen kan hy ongeïdentifideerd met sy wandade voortgaan!!!

Irma ·

Siek ! En dan word ons mense voortdurend van allerhande vergrype en misdrywe beskuldig terwyl hierdie tipe optrede teen hul eie mense aan barbarisme grens maar dit word as reg en aanvaarbaar beskou.

Karen ·

Arme kind. Alles as gevolg van perverse wellus. Sulke dinge maak my woedend. Ek hoop regtig sy word nou goed versorg.

Wonner ·

Dis dalk mos nie waar nie want sy is “Glo “gedwing.Dit beteken MOS dis dalk nie so nie…of hoe Maroela ?

RHG ·

Mens kan huil oor wat haar ontneem is. Glo my, daar is baie sulke gevalle.
As ouers sterf en ‘n oom moet sorg, word dit verstaan dat hy haar maar mag gebruik. Kinders word uit sulke verhoudings gebore. ‘n Skoolgaande dogter het by haar ouer broer moes bly en sy vertel vir ‘n onderwyseres hy eis sy pond vleis op. Die onderwyseres rapporteer dit en haar kollegas neem haar kwalik!!! Boetie sorg immers vir sy sussie! Dit maak seer net om daaraan te dink.

Namgrl ·

Lord have MERCY!!!
Dit is verskriklik onmenslik. meerder dan dit kan ek nie skryf nie. Hartseerlik

Ria Maritz ·

Dit het my fisies naar ! Dis in alle opsigte onaanvaarbaar !
Bo en behalwe alles, hoe wil sommige mense een verkragting regverdig met nog verkragting.

My hart ween vir die kind.

$ ·

Maroela, die 61-jarige man is die meisie se ´eggenoot’, nie ´eggenote ´ nie.

Sê net ·

…en ons laat toe dat diesulkes oor ons regeer? Wat is fout met ons?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.