13-jarige samel derduisende vir jong kinders in

Tannah en Judy Bloomfield in 2018. (Foto: Tannah’s Gift/Facebook)

ʼn Welwillende tiener het as vyfjarige reeds haar eerste geldinsameling gehou om kinders met ʼn gesplete lip en verhemelte te help.

Agt jaar later het sy en haar ma reeds R600 000 vir die Netcare-stigting se program vir gesplete lip en verhemelte ingesamel. Dié program het ten doel om minderbevoorregte kinders met dié toestand vroegtydig te behandel.

Tannah Bloomfield, nou 13 jaar oud, is self met ʼn gesplete lip en verhemelte gebore. Hoewel Tannah reeds op drie maande haar eerste operasie ontvang het, wou sy van ʼn jong ouderdom af mense met dieselfde toestand help.

Tannah se ma, Judy, het in 2013 ʼn gholfdag gereël in ʼn poging om geld vir Netcare se program in te samel.

“Tannah wou ook graag haar deel doen en het daarop aangedring om ʼn limonade-stalletjie te hê,” sê Judy.

“Deur limonade aan deelnemers en toeskouers te verkoop, het sy R1 200 ingesamel sodat kinders soos sy se ‘lippe reggemaak’ kan word.”

Sedertdien het Tannah’s Gift ʼn gevestigde liefdadigheidsorganisasie geword wat sy tyd en geld grotendeels aan kinders soos Tannah wy.

Tannah’s Gift het reeds sewe geldinsamelingsgeleenthede aangebied wat byna R600 000 in agt jaar ingesamel het.

Tannah se limonade-stalletjie destyds. (Foto: Verskaf)

“Weens die Covid-19-pandemie kon die gholfdag vir die eerste keer in sewe jaar nie verlede jaar plaasvind nie. Tannah’s Gift se bedrywighede het egter voortgegaan en ons het daarop gefokus om openbare gesondheidsgeriewe met broodnodige persoonlike beskermingstoerusting te voorsien,” sê sy.

“Die jaarlikse gholfdag kon eindelik weer vanjaar gehou word, waartydens ons R70 000 ingesamel het.”

Dié geld is aan die Netcare-stigting oorhandig, sodat kinders gratis mediese ingrypings kan ondergaan.

Na raming word een uit 12 babas wêreldwyd met ʼn gesplete lip en verhemelte gebore. Hierdie mediese toestand kan spraak- en eetprobleme veroorsaak en die fisieke en sosiale ontwikkeling van kinders belemmer indien dit nie vroegtydig behandel word nie.

“Die gesinne van ʼn groot aantal kinders wat met ʼn gesplete lip en verhemelte gebore word, kan dit nie bekostig om hulle vir ʼn reeks operasies te stuur nie. Hierdie kinders word dan dikwels deur die samelewing uitgestoot en is nie in staat om hul volle potensiaal te verwesenlik nie,” sê Judy.

Mande Toubkin, ʼn bestuurder by Netcare, sê die stigting het in samewerking met Tannah’s Gift reeds honderde Suid-Afrikaners, met onder meer ʼn gesplete lip en verhemelte, se lewe verander.

“Namens die Netcare-span wil ons vir Tannah’s Gift dankie sê vir hul hand daarin om mense te help om hul volle potensiaal te bereik. Ons hoop daar sal voortaan nog baie mense hierdeur gehelp word,” sê Toubkin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swerwer

Tannah jy is ‘n Engelkind, met ‘n wonderlike liefdevolle Mamma.

MJ

Wow as so ‘n klein dogtertjie so ‘n groot verskil kan maak… dink net as ons almal elke dag iets probeer doen vir ‘n ander persoon…

piet

Sommige mense doen ander moan net. So jy kry doeners en moaners in hierdie lewe.

Blomme

Wat ń pragtige gebaar deur so pragtige dogter en Mama. Voorwaar ń voorbeeld vir vele.