13 onwettige immigrante in Klerksdorp vas

(Foto: Verskaf)

ʼn Multidissiplinêre misdaadbekampingsoperasie wat bestaan ​​uit die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad, die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), Klerksdorp se onwettige mynbou-taakspan, die nasionale intervensie-eenheid (NIU), Noordwes se plofstofeenheid, Noordwes se honde-eenheid en Noordwes se motorfietseenheid, het Vrydag altesaam 13 onwettige immigrante tussen die ouderdomme van 15 en 46 in Klerksdorp in hegtenis geneem.

Lt.kol. Tinyiko Mathebula, woordvoerder van die Valke, sê die verdagtes is by Wolwerand Goudmyn – wat in onbruik is – in hegtenis geneem nadat die polisie inligting oor die onwettige ontginning van goud ontvang het.

“Die span het die inligting opgevolg en op die onwettige mynwerkers toegeslaan. Die onwettige mynwerkers het egter dadelik van die toneel gevlug en hul toerusting agtergelaat.

(Foto: Verskaf)

“Altesaam 13 verdagtes wat in die omtrek van die myn gevind is, is in hegtenis geneem en vir die oortreding van artikel 49 van die Immigrasiewet 13 van 2002 aangekla.

“Voorlopige ondersoeke kon egter nie die verdagtes met onwettige mynbou verbind nie.”

Mathebula sê die polisie het op 15 phendukas (silindriese apparate wat gebruik word om goud mee te sif), agt kragopwekkers, ʼn watertenk, waterpype en ander myntoebehore beslag gelê.

“Daar is ook beslag gelê op gouddraende materiaal met ʼn geraamde waarde van ongeveer R200 000. Vier informele goudverwerkingsaanlegte is vernietig.”

Brig. Landa Edgar Malima, waarnemende hoof van die Valke, het die span se pogings om onwettige mynaktiwiteite hok te slaan geloof.

Die 13 verdagtes sal na verwagting Maandag in die Klerksdorp-landdroshof verskyn.

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.